hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14 Bybel vir Almal (ABA)

Die leiers van die volk maak planne om Jesus dood te maak

1. Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het skelm planne probeer maak om Jesus te vang en dood te maak.

2. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.”

’n Vrou gooi lekkerruik-olie op Jesus se kop

3. Jesus het in Betanië in die huis van Simon die melaatse man geëet. Daar kom toe ’n vrou en sy het ’n mooi klip-kruikie gehad. In die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die kruikie oopgebreek en sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi.

4. Party van die mense het kwaad geword daaroor en hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom mors sy die olie?

5. Sy kon dit verkoop het en meer as 300 silwer geldstukke gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.”Hulle het met haar geraas.

6. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Los haar. Hoekom pla julle haar? Sy het vir My iets gedoen wat goed is.

7. Die arm mense is altyd by julle en wanneer julle vir hulle goed wil doen, dan kan julle dit doen. Maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.

8. Hierdie vrou het gedoen wat sy kon doen. Sy het die lekkerruik-olie oor My gegooi sodat my liggaam gereed kan wees vir my begrafnis.

9. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense die goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.”

Judas besluit om Jesus te verraai

10. Judas Iskariot was een van die twaalf dissipels. Hy het na die priesterleiers toe gegaan om Jesus te verraai.

11. Toe die priesterleiers dit hoor, was hulle bly en hulle het belowe om vir Judas geld te gee. Judas het ’n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai.

Die laaste Paasfees

12. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?”

13. Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. ’n Man wat water in ’n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom.

14. Hy sal in ’n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’

15. Die eienaar sal vir julle ’n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.”

16. Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.

17. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom.

18. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.”

19. Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?”

20. Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk.

21. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die nagmaal

22. Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.”

23. Jesus het ook ’n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink.

24. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond.

25. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.”

26. Jesus en sy dissipels het ’n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.

Petrus sal sê hy ken nie vir Jesus nie

27. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal ophou om in My te glo. Die profeet Sagaria het geskryf:“God het gesê: Ek saldie skaapwagter doodmaak,en die skape sal weghardloopna al die kante toe.

28. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.”

29. Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nie ophou om in U te glo nie!”

30. Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.”

31. Maar Petrus het aangehou en ernstig gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê ek ken nie vir U nie.”Al die ander dissipels het ook aangehou om dit te sê.

Jesus in die tuin van Getsemane

32. Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.”

33. Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword.

34. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.”

35. Jesus het ’n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit.

36. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”

37. Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie?

38. Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”

39. Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid.

40. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang.

42. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”

Mense vang vir Jesus

43. Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was ’n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur.

44. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal ’n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.”

45. Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen.

46. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang.

47. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap.

48. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang?

49. Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.”

50. Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop.

51. Daar was ’n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net ’n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou,

52. maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.

Die Joodse Raad sê Jesus is skuldig

53. Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom.

54. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak.

55. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie.

56. Baie mense het vertel wat Jesus gedoen het, maar nie een van hulle het die waarheid gepraat nie, hulle stories was nie dieselfde nie.

57. Party mense het opgestaan en hulle het leuens vertel oor Jesus. Hulle het gesê:

58. “Ons het gehoor Jesus sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat mense gebou het, afbreek en Ek sal in drie dae ’n ander tempel bou. Dit sal nie mense wees wat hierdie tempel bou nie.’ ”

59. Maar ook hieroor het die mense nie dieselfde gepraat nie.

60. Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?”

61. Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?”

62. Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.”

63. Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor.

64. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?”Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak.

65. Party van die mense het op Jesus gespoeg. Hulle het sy oë toegebind en hulle het Hom met hulle vuiste geslaan en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is ’n profeet!”Die wagte het Hom weggevat en hulle het Hom geklap.

Petrus sê hy ken nie vir Jesus nie

66. Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het daarnatoe gekom.

67. Sy het vir Petrus gesien, hy het by die vuur gesit om homself warm te maak. Sy het lank na hom gekyk en vir hom gesê: “Jy was ook saam met Jesus, die man van Nasaret.”

68. Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”Petrus het toe uitgegaan na die poort. ’n Haan het gekraai.

69. Die meisie het weer vir Petrus gesien en sy het weer vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man is een van Jesus se dissipels.”

70. Maar Petrus het weer gesê dit is nie waar nie. ’n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, vir Petrus gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want jy kom ook van Galilea!”

71. Petrus het gesê: “Julle praat van hierdie man, maar ek ken hom glad nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.”

72. Toe het die haan die tweede maal gekraai. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan twee maal gekraai het.”Petrus het baie hartseer geword, hy het aangehou huil.