hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het vir die mense en vir sy dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”

God sê Jesus is sy Seun

2. Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem tot op ’n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie. Daar by hulle het Jesus toe skielik begin anders lyk.

3. Sy klere het blink en baie wit geword. Niemand op die aarde kon dit witter maak nie.

4. Elia en Moses het aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat.

5. Petrus sê toe vir Jesus: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente maak, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.”

6. Petrus het nie geweet wat hy moet sê nie, want hy en die ander twee dissipels was baie bang.

7. Daar het toe ’n wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “Dit is my Seun, Ek is lief vir Hom. Julle moet doen wat Hy sê.”

8. Die drie dissipels het dadelik rondgekyk, maar hulle het net vir Jesus gesien, niemand anders nie.

9. Jesus en sy dissipels het afgekom van die berg, en Jesus het vir hulle gesê hulle moet vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Hulle kon dit vertel nadat Hy, die Seun van die mens, weer begin lewe het.

10. Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe.

Jesus sê Elia het al klaar gekom

11. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?”

12. Jesus het vir hulle gesê: “Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My?

13. Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.”

Daar was ’n onrein gees in ’n seun, en Jesus het die seun gesond gemaak

14. Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is ’n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry.

15. Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet.

16. Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?”

17. Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is ’n onrein gees in hom wat hom stom maak.

18. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.”

19. Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.”

20. Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond.

21. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?”Die pa het gesê: “Vandat hy klein was.

22. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!”

23. Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.”

24. Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.”

25. Toe Jesus sien dat ’n groot klomp mense na hulle toe hardloop, het Hy hard met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jy is ’n gees wat mense stom en doof maak. Ek sê vir jou: Gaan uit die seun uit! Jy moet nooit weer in hom inkom nie!”

26. Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood.

27. Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan.

28. Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?”

29. Jesus het hulle geantwoord: “’n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.”

Jesus praat die tweede maal oor sy dood

30. Hulle het van daar weggegaan en deur Galilea gegaan. Jesus wou nie hê iemand moes weet waar hulle is nie,

31. want Hy was besig om vir sy dissipels te leer. Hy het gesê: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”

32. Die dissipels het nog nie verstaan wat Jesus gesê het nie en hulle was te bang om vir Hom te vra wat sy woorde beteken.

Wie is die belangrikste?

33. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Toe Jesus in die huis kom, het Hy vir die dissipels gevra: “Waaroor het julle met mekaar gestry terwyl julle geloop het?”

34. Maar hulle het stilgebly, want terwyl hulle geloop het, het hulle met mekaar gestry oor wie die belangrikste is.

35. Nadat Jesus gaan sit het, het Hy die twaalf dissipels geroep en vir hulle gesê: “As iemand die belangrikste wil wees, dan moet hy die minste belangrik van almal wees en dan moet hy almal dien.”

36. Jesus het ’n kindjie geneem en Hy het die kindjie voor hulle laat staan. Hy het die kindjie in sy arms vasgehou en vir sy dissipels gesê:

37. “Wanneer iemand vir een van die kinders wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom.”

As iemand nie teen Jesus en sy dissipels is nie, dan help hy vir hulle

38. Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

39. Maar Jesus het gesê: “Julle moet hom nie keer nie. As iemand my Naam gebruik om ’n wonderwerk te doen, dan sal hy nie gou sleg praat oor My nie.

40. As hy nie teen ons is nie, dan help hy ons.

41. As iemand vir julle ’n beker water gee omdat julle aan Christus behoort, dan sal God vir hom baie goeie dinge gee. Dit is seker.”

Dinge wat ’n mens laat ophou glo

42. “En as iemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat ophou glo, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle ’n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom in die see gooi.

43. As dit jou hand is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om een hand te hê en die ewige lewe te ontvang, as om twee hande te hê en na die hel te gaan, na die vuur wat nooit ophou brand nie.

45. En as dit jou voet is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om kreupel te wees en die ewige lewe te ontvang as om twee voete te hê en na die hel te gaan.

47. As dit jou oog is wat jou laat ophou glo, ruk dit uit. Dit is beter om een oog te hê en die lewe te ontvang wat kom van God, die Koning, as om met twee oë na die hel te gaan.

48. Daar sal die wurms nie doodgaan nie en die vuur sal nie ophou brand nie.

49. As ’n mens swaarkry, dan is dit soos om in vuur te brand, en swaarkry is nodig om elke mens te toets, soos sout nodig is vir kos.

50. Sout is nodig vir kos, maar as die sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan dit nie meer sout wees nie. Julle moet wees soos goeie sout in kos, daarom moet julle in vrede met mekaar lewe.”