hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10 Bybel vir Almal (ABA)

Getroude mense wat skei

1. Nadat Jesus weggegaan het van die stad Kapernaum, het Hy oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. ’n Groot klomp mense het rondom Jesus bymekaargekom en Hy het vir hulle weer begin leer soos Hy altyd gedoen het.

2. Party Fariseërs het na Hom toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag ’n man skei van sy vrou?”

3. Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Moses vir julle gesê?”

4. Hulle het gesê: “Moses het gesê ’n man mag vir sy vrou ’n skeibrief gee en van haar skei.”

5. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses vir julle hierdie wet gemaak.

6-9. Maar as God ’n man en ’n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie. God wat in die begin alles gemaak het, het die mense so gemaak dat hulle mans en vroue is.“Daarom sal ’n man weggaanvan sy pa en sy ma,en hy sal saam met sy vrou lewe,en hulle twee sal sooseen mens wees.“Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een.”

10. Later, toe hulle weer terug in die huis was, het die dissipels vir Jesus uitgevra oor wat Hy gesê het.

11. Jesus het vir hulle gesê: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk teen sy vrou.

12. En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, dan pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën kindertjies

13. Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak, maar die dissipels het met hulle geraas.

14. Toe Jesus dit hoor, het Hy kwaad geword en vir sy dissipels gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle.

15. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos ’n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy nie kan inkom waar God Koning is nie.”

16. Jesus het die kindertjies in sy arms vasgehou. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle geseën.

Geld en rykdom

17. Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is ’n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.”

18. Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie.

19. Jy weet wat God gesê het:“Jy mag nie iemand doodmaak nie,jy mag nie egbreuk pleeg nie,jy mag nie steel nie,jy mag nie oor ander menselieg nie,jy mag nie skelm wees en iemandanders se goed vat nie,jy moet jou ouers respekteer.”

20. Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.”

21. Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.”

22. Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk.

23. Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.”

24. Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is.

25. ’n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. ’n Kameel sal makliker deur die oog van ’n naald kan gaan.”

26. Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?”

27. Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.”

28. Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.”

29. Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry.

30. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal ’n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry.

31. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

Jesus sê die derde maal Hy sal sterf en weer lewe

32. Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur.

33. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee,

34. en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met ’n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”

Jakobus en Johannes wil langs Jesus sit

35. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.”

36. Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

37. Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.”

38. Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?”

39. Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word.

40. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. God het klaar besluit wie daar moet sit.”

41. Toe die ander tien dissipels hoor wat Johannes en Jakobus gevra het, het hulle kwaad geword.

42. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense.

43. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien.

44. En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees.

45. Want Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”

Jesus maak die blinde Bartimeus gesond

46. Jesus en sy dissipels het in die stad Jerigo gekom. Toe hulle en baie ander mense weer uit Jerigo uitgaan, het Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Bartimeus was blind en hy het gebedel.

47. Toe hy hoor Jesus van Nasaret is daar, het hy hard begin roep: “Jesus, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!”

48. Baie mense het met hom geraas en vir hom gesê hy moet stilbly, maar hy het aangehou en nog harder geskree: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!”

49. Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!”Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie. Staan op, Jesus roep jou!”

50. Die blinde man het sy bo-kleed op die grond gegooi en hy het opgespring en na Jesus toe gegaan.

51. Jesus het vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”Die blinde man sê toe: “Meneer, ek wil weer sien!”

52. Jesus het vir hom gesê: “Jy mag gaan. Jy kan nou sien, want jy het geglo.”Die man kon dadelik sien. Maar hy het Jesus gevolg en saamgegaan met Hom op die pad.