hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6 Bybel vir Almal (ABA)

Die mense van Nasaret glo nie in Jesus nie

1. Jesus het weggegaan van daardie plek. Hy kom toe in Nasaret, die stad waar Hy grootgeword het. Sy dissipels het saam met Hom gegaan.

2. Toe die Sabbatdag begin, het Hy vir die mense begin leer in die sinagoge. Baie mense het geluister na Hom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Waar het hy al hierdie dinge geleer? Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen?

3. Ons weet Jesus is ’n man wat houtwerk doen. Hy is Maria se seun en hy is die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon. Sy susters is ook hier by ons.”Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie.

4. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na ’n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in sy eie stad, in sy eie familie en sy eie huisgesin respekteer hom nie.”

5. Jesus kon nie een wonderwerk in Nasaret doen nie. Hy het sy hande net op ’n paar siek mense gesit en Hy het hulle gesond gemaak.

6. Jesus was verbaas omdat die mense nie in Hom geglo het nie.Jesus het aangehou om in elke stad daar naby vir die mense te leer.

Jesus stuur die twaalf dissipels om te gaan preek

7. Hy het ook die twaalf dissipels geroep en Hy het hulle na die mense toe gestuur. Hy het gesê hulle moenie alleen gaan nie, hulle moet twee-twee saam gaan. Hy het gesê Hy sal vir hulle krag gee om onrein geeste uit mense uit te jaag.

8. Jesus het vir hulle gesê hulle mag niks saamneem wanneer hulle gaan nie. Hulle mag net ’n kierie saamneem, maar nie kos, of ’n rugsak, of geld in hulle beursies nie.

9. Hulle mag sandale aantrek, en hulle moenie nog klere saamneem nie.

10. Jesus het ook vir hulle gesê: “Wanneer mense julle nooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad.

11. En wanneer die mense in ’n stad julle nie daar wil laat bly nie en nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.”

12. Die dissipels het na die mense toe gegaan en gepreek. Hulle het vir die mense gesê hulle moet verander en lewe soos God wil hê.

13. Die dissipels het ook baie duiwels uitgejaag uit mense, en hulle het baie siek mense gesalf met olyf-olie en hulle het die mense gesond gemaak.

Koning Herodes maak vir Johannes die Doper dood

14. Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.”

15. Party mense het gesê: “Hy is Elia.”Ander mense het gesê: “Jesus is ’n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.”

16. Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.”

17-18. Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang.

19. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie,

20. want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is ’n goeie en ’n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.

21. Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het ’n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea.

22. Herodias se dogter het ingekom om vir hulle te dans. Koning Herodes en al die mense wat daar was, het baie daarvan gehou. Die koning sê toe vir die meisie: “Jy mag vir my enige iets vra wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23. Hy het weer en weer vir haar belowe: “Ek sal vir jou enige iets gee wat jy vir my vra. As jy vir my die helfte van my land vra, dan sal ek dit ook vir jou gee.”

24. Die dogter het na haar ma toe gegaan en vir haar gevra: “Wat moet ek vra?”Herodias het geantwoord: “Jy moet sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.”

25. Die dogter het haastig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê jy moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper in ’n skottel bring.”

26. Die koning het baie hartseer geword, maar al die mense wat saam geëet het, het gehoor wat hy belowe het, en hy wou nie sy belofte breek nie.

27. Die koning het dadelik ’n soldaat gestuur en vir hom gesê hy moet Johannes se kop bring. Die soldaat het na die tronk gegaan en hy het Johannes se kop afgekap.

28. Hy het Johannes die Doper se kop in ’n skottel gebring en hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29. Toe Johannes se dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en hulle het sy lyk weggeneem en begrawe.

Die apostels kom terug

30. Die apostels het teruggekom na Jesus toe en hulle het vir Hom alles vertel wat hulle gedoen het en wat hulle vir die mense geleer het.

31. Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na ’n stil plek gaan sodat julle ’n bietjie kan rus.”

32. Hulle het in ’n boot weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees.

33. Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.

34. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer.

Jesus gee vir 5 000 mense kos

35. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van ’n stad en dit is al laat.

36. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.”

37. Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.”Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?”

38. Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.”

39. Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet.

40. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense.

41. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee.

42. Almal het genoeg geëet.

43. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het.

44. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000.

Jesus loop op die see

45. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan.

46. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid.

47. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land.

48. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom.

49. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is ’n spook en hulle het hard geskree.

50. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”

51. Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas.

52. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie.

Jesus maak mense gesond by die stad Gennesaret

53. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak.

54. Toe hulle uit die boot klim, het die mense dadelik gesien dit is Jesus.

55. Die mense het na al die plekke gehardloop, en hulle het die siek mense op hulle slaapmatte na Jesus toe gedra.

56. Op elke dorpie, in elke stad en op elke plaas waar Jesus gekom het, het hulle die siek mense op die oop plekke neergesit. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.