hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12 Bybel vir Almal (ABA)

Die gelykenis van die wingerd

1. Jesus het begin om met die mense te praat en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “’n Man het ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Hy het ’n muur rondom die wingerd gebou en ’n parskuip gereedgemaak. En hy het ’n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan.

2. Toe dit tyd word om die druiwe te pluk, het hy ’n slaaf na die mense toe gestuur om die druiwe te gaan haal wat hy moes kry.

3. Die mense het sy slaaf gegryp, hulle het hom geslaan en hom weggejaag. Hulle het niks vir hom gegee nie.

4. Die eienaar van die wingerd het ’n ander slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom op sy kop geslaan en baie slegte dinge gedoen aan hom.

5. Toe stuur die eienaar van die wingerd ’n ander slaaf, en die mense het hom doodgemaak. Die eienaar het nog baie ander slawe gestuur. Die mense het party van die slawe geslaan en hulle het party slawe doodgemaak.

6. “Die eienaar het toe nog net een gehad wat hy kon stuur. Dit was sy seun. Hy was baie lief vir die seun. Die eienaar het toe hierdie seun na die mense toe gestuur, dit was die laaste persoon wat hy gestuur het. Hy het gedink hulle sal sy seun respekteer.

7. Die mense het vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan kan ons alles kry.’

8. Hulle het die seun gegryp, hulle het hom doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.

9. Wat dink julle? Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak en die wingerd vir ander mense gee.

10. Het julle hierdie woorde in die Ou Testament gelees?“Die klip wat die bouersnie wou gebruik nie,daardie klip het die belangriksteklip in die hele gebou geword.

11. Dit is die Here se werk,en dit is vir ons wonderlik.”

12. Die leiers van die Jode het toe probeer om Jesus te laat vang en toe te sluit. Hulle het geweet Hy het die gelykenis vertel om te wys hulle is soos daardie slegte mense. Maar die leiers van die Jode was bang vir die ander mense en daarom het hulle vir Jesus gelos en hulle het weggegaan van Hom.

Aan wie die mense belasting moet betaal

13. Die Fariseërs en Herodiane het ’n paar mense na Jesus toe gestuur. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry.

14. Hulle kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy is nie bang vir wat die mense sê van jou nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en wat jy vir hulle leer, is die waarheid. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons die belasting betaal of moet ons dit nie betaal nie?”

15. Jesus het geweet hulle is skynheilig en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee? Bring vir My ’n silwer geldstuk sodat Ek dit kan sien.”

16. Hulle bring toe vir Jesus ’n silwer geldstuk en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?”Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.”

17. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, maar julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.”Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het.

Mense wat gesterf het, sal weer lewe

18. ’n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê:

19. “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘Wanneer ’n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’

20. “Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie.

21. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, maar hy het ook gesterf en hulle het ook nie kinders gehad nie. Dieselfde het gebeur met die derde broer.

22. Die sewe broers het almal met die vrou getrou, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf.

23. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.”

24. Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie.

25. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel.

26. Julle vra oor mense wat gesterf het, wat weer sal lewe. Maar het julle nie in die boeke van Moses gelees nie? Moses het geskryf oor die bos wat gebrand het, en daar het God vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’

27. God is nie die God van dooie mense nie. Hy is die God van mense wat lewe. Julle is heeltemal verkeerd!”

Die belangrikste wet in die Ou Testament

28. Een van die skrifgeleerdes het gehoor Jesus en die Sadduseërs praat met mekaar en hy het nader gekom. Toe hy hoor dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy vir Jesus: “Wat is die belangrikste wet in die Ou Testament?”

29. Jesus het geantwoord: “Die belangrikste wet is: ‘Julle moet luister, mense van Israel, die Here ons God is die enigste Here,

30. en jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede belangrike wet is: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Daar is nie ’n ander wet wat belangriker is nie.”

32. Die skrifgeleerde sê toe vir Jesus: “Jy het goed geantwoord, Meneer. Dit is waar wat jy sê: ‘Daar is net een God, daar is nie ’n ander God nie.’

33. Dit is belangrik ‘om vir God lief te wees met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag’ en ‘om lief te wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Dit is belangriker as al die brand-offers en al die ander offers wat mense vir God gee.”

34. Toe Jesus hoor dat die skrifgeleerde goed geantwoord het, het Hy vir hom gesê: “Jy verstaan nou amper wat dit beteken dat God Koning is.”Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.

Is die Christus die Seun van Dawid?

35. Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat die Christus die Seun van Dawid is?

36. Dawid self het gesê wat die Heilige Gees vir hom gesê het:“Die Here het vir my Here,die Koning, gesê:Sit hier langs My,op die belangrikste plek.Ek sal jou vyande voor jou laat buigen jy sal jou voete op hulle sit.

37. “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?”Die groot klomp mense het graag na Jesus geluister.

Jesus waarsku die mense teen die godsdienstige leiers

38. Toe Jesus vir hulle geleer het, het Hy gesê: “Pasop vir die skrifgeleerdes. Hulle wil graag met deftige klere rondloop en hulle wil hê almal moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom.

39. Hulle wil graag sit op die belangrikste plekke in die sinagoges en by die feeste.

40. Maar die skrifgeleerdes is mense wat weduwees bedrieg en wat hulle huise vat. En hulle is mense wat baie lank bid sodat ander mense dit moet sien. God sal hulle baie swaar straf.”

Die arm weduwee se dank-offer

41. Jesus het voor die dankoffer-kis in die tempel gaan sit en Hy het gekyk hoe al die mense koper geldstukke in die kis gooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi.

42. Daar kom toe ’n arm weduwee en sy gooi twee klein geldstukkies in. Dit was baie min geld.

43. Jesus het sy dissipels geroep en vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat geld in die dankoffer-kis gegooi het.

44. Die ryk mense het baie geld om in te gooi en daarna het hulle nog baie geld. Hierdie vrou is baie arm, maar sy het alles ingegooi, sy het nie meer geld om kos te koop nie.”