hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die man met ’n gebreklike hand

1. Jesus het weer in die sinagoge ingegaan. Daar was ’n man met ’n gebreklike hand.

2. Die mense het Jesus dopgehou om te sien of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. Hulle wou Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het.

3. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”

4. Jesus het vir die mense gevra: “Mag ’n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag ’n mens iemand se lewe red, of mag ’n mens hom doodmaak?”Maar die mense het stilgebly.

5. Jesus het na die mense rondom Hom gekyk. Hy was kwaad en ook hartseer omdat hulle hardkoppig was. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!”Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond.

6. Die Fariseërs het uitgegaan en hulle het dadelik saam met die Herodiane planne gemaak om Jesus dood te maak.

Baie mense kom na Jesus toe

7. Jesus en sy dissipels het teruggegaan na die see en ’n klomp mense van die provinsie Galilea het saam met Hom gegaan. Daar het ook baie mense van die provinsie Judea gekom,

8. en van Jerusalem, en van die ander kant van die Jordaan-rivier en van die plekke rondom die stede Tirus en Sidon. Hulle het na Jesus toe gekom, want hulle het gehoor van die dinge wat Hy doen.

9. Jesus het vir sy dissipels gesê hulle moet vir Hom ’n bootjie kry. Daar was so baie mense dat Jesus bang was hulle druk teen Hom en maak Hom seer.

10. Jesus het baie mense gesond gemaak, en almal wat siek was, wou by Jesus kom en aan Hom raak.

11. Daar was ook mense wat onrein geeste in hulle gehad het. Elke maal wanneer hulle Jesus gesien het, het hulle voor Hom op die grond geval en geskree: “U is die Seun van God,”

12. maar Jesus het gesê hulle mag glad nie sê wie Hy is nie.

Jesus kies twaalf apostels

13. Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek.

15. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag.

16. Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee,

17. en Hy het vir Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus, die naam Boanerges gegee. Dit beteken “Manne van die donderweer.”

18. Die ander apostels was: Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot,

19. en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.

Die skrifgeleerdes sê Jesus is Beëlsebul

20. Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie.

21. Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!”

22. Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.”

23. Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie.

24. As die mense van ’n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie.

25. En as die mense van ’n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie.

26. Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde.

27. ’n Mens kan nie maklik in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel.

28. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal mense vergewe wanneer hulle sonde doen en sleg praat van iemand.

29. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. So iemand sal altyd skuldig wees.”

30. Jesus het dit gesê omdat die mense gesê het: “Hy het ’n onrein gees in hom.”

Jesus se ma en sy broers

31. Jesus se ma en sy broers het na Hom toe gekom. Hulle het buite bly staan, en hulle het ’n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep.

32. Baie mense het rondom Jesus gesit. Hulle het vir Hom gesê: “Kyk, jou ma en jou broers en jou susters is daar buite en hulle soek jou.”

33. Jesus het vir hulle gevra: “Wie is my ma en my broers?”

34. Hy kyk toe na die mense wat in ’n kring rondom Hom sit, en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers.

35. Elkeen wat doen wat God wil hê, is my broer of my suster of my ma.”