hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Julle moet doen soos ek doen. En ek doen soos Christus doen.

God en Christus, man en vrou se plek in die gemeente

2. Ek wil julle prys omdat julle altyd probeer onthou wat ek vir julle geleer het. Julle onthou en doen die dinge wat ek by die Here en by die ander apostels gehoor het en wat ek vir julle geleer het.

3. Ek wil hê julle moet weet dat Christus die Hoof van elke man is. Die man is die hoof van sy vrou, en God is die Hoof van Christus.

4. ’n Man wat bid of wat God se boodskap bring, moenie sy hare toemaak nie, want dan eer hy nie vir Christus, sy Hoof, nie.

5. Maar ’n vrou wat bid of wat God se boodskap bring, moet ’n sluier oor haar kop dra. As sy nie ’n sluier dra nie, dan eer sy nie haar hoof, haar man, nie, want dan is sy dieselfde soos ’n vrou wat haar kop kaal geskeer het.

6. As ’n vrou nie ’n sluier wil dra nie, dan moet sy ook haar hare afsny. Maar julle weet dat dit verkeerd is wanneer ’n vrou haar hare afsny of haar kop kaal skeer. Daarom moet sy ’n sluier dra wanneer sy bid of God se boodskap bring.

7. ’n Man moenie iets op sy kop dra wanneer hy bid of God se boodskap bring nie, want hy is die hoof in God se plek en hy moet God eer. Maar die vrou moet haar man eer.

8. Want God het die man nie uit die vrou gemaak nie, Hy het die vrou uit die man gemaak.

9. En God het die vrou gemaak om die man te help, Hy het nie die man gemaak om die vrou te help nie.

10. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra. So wys sy dat haar man haar hoof is. En dan is die engele ook tevrede.

11. Maar onthou: Die man en die vrou behoort altwee aan die Here. Daarom het die man sy vrou nodig, en die vrou het haar man nodig.

12. Ja, dit is reg, God het die vrou uit die man gemaak. Maar elke man word uit ’n vrou gebore. En so kom alles van God.

13. Julle moet nou self besluit: Is dit reg dat ’n vrou tot God bid wanneer sy niks op haar kop dra nie? Nee.

14. Ons sien by al die volke dat dit nie reg is dat ’n man lang hare dra nie.

15. Maar as ’n vrou lang hare het en sy maak dit mooi, dan lyk sy pragtig. Want ’n vrou het lang hare gekry sodat sy haar kop kan toemaak.

16. As daar iemand is wat oor hierdie dinge wil stry, dan sê ek vir hom: By ons én by die ander gemeentes van God stry ons nie oor hierdie dinge nie. Die vroue dra altyd sluiers wanneer hulle bid of wanneer hulle ’n boodskap van God bring.

Verkeerde dinge by die nagmaal

17. Daar is iets anders wat ek vir julle moet sê, maar ek kan julle nie hieroor prys nie. Wanneer julle in die kerk bymekaar is, dan gebeur daar dinge wat julle geloof nie sterker maak nie, dit maak julle geloof swakker.

18. Die eerste ding is: Ander mense het vir my vertel dat daar groepe in julle gemeente is wat teen mekaar is wanneer julle bymekaarkom. En ek dink dit is miskien waar wat daardie mense sê.

19. Miskien is dit goed dat daar groepe is by julle, want nou kan ’n mens sien wie behoort regtig aan Christus en wie behoort nie aan Hom nie.

20. Wanneer julle gemeente bymekaarkom om nagmaal te vier, dan vier julle nie regtig die nagmaal van die Here nie.

21. Want wanneer julle eet, dan is daar party mense wat voor die ander begin eet, en hulle eet dan hulle eie kos. En wat gebeur dan? Party mense kry niks om te eet nie, en ander mense drink te veel.

22. Het julle nie huise waar julle kan eet en drink nie? Ja, julle het. Julle wys dat die gemeente van God glad nie belangrik is vir julle nie, want julle verneder die mense wat min het. Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Nee, nooit nie.

23. Ek sê hierdie dinge vir julle, want die Here self het vir my gesê wat die nagmaal is, en ek het dit ook vir julle geleer: Daardie nag toe Judas Iskariot vir die Here Jesus verraai het, het Jesus brood geneem

24. en Hy het vir God dankie gesê. Toe het Hy die brood gebreek en gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”

25. Nadat hulle dit geëet het, het Jesus ook die beker geneem en gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die nuwe verbond. Elke maal wanneer julle die wyn drink, dan moet julle aan My dink.”

26. Want elke maal wanneer julle hierdie brood eet en die wyn drink, dan preek julle dat die Here Jesus gesterf het. En julle doen dit totdat Hy weer kom.

Hoe die gemeente die nagmaal reg moet vier

27. Daarom, as iemand nie op die regte manier die brood van die Here eet of die wyn van die Here drink nie, dan is hy so skuldig soos die mense wat vir die Here doodgemaak het.

28. Elkeen moet eers vir homself ernstig vra of hy verstaan wat die nagmaal beteken en of hy reg lewe. En as hy dink dat hy dit verstaan en dat hy reg lewe, dan mag hy van die brood eet en uit die beker drink.

29. Die gemeente is die liggaam van die Here. As jy dit nie verstaan nie, dan eet en drink jy verkeerd by die nagmaal. En dan sal die Here jou straf.

30. Daarom is daar baie van julle wat swak en siek is, en daarom het baie mense ook gesterf.

31. Ons moet eers vir onsself ernstig vra of ons verstaan wat die nagmaal beteken en of ons reg lewe. As julle dit gedoen het, dan het die Here julle nie gestraf nie.

32. Maar as die Here ons straf, dan doen Hy dit soos ’n pa wat sy kinders straf. Hy wil ons nie saam met die mense van die wêreld straf nie.

33. My vriende, daarom moet julle vir mekaar wag wanneer julle bymekaarkom om die nagmaal te vier.

34. Wanneer iemand honger is, dan moet hy by sy huis eet voordat julle bymekaarkom. As julle dit nie doen nie, dan sal die Here julle straf.Daar is nog ander dinge waaroor ek met julle wil praat, maar ek sal dit doen wanneer ek na julle toe kom.