hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 16 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus maak geld bymekaar vir die gelowiges in Jerusalem

1. Ek is besig om geld bymekaar te maak vir die gelowiges in Jerusalem. Ek het klaar vir die gemeentes in Galasië gevra om geld te gee. Nou vra ek ook vir julle.

2. Julle moet elkeen elke Sondag by die huis ’n bietjie geld bêre. Julle kan van die geld bêre wat julle nie gebruik het nie. En wanneer ek kom, dan sal ek nie vir julle geld vra nie omdat julle dan klaar geld gespaar het.

3. Julle mag self die mense kies wat die geld na Jerusalem moet neem. Wanneer ek kom, dan sal ek briewe skryf wat sal sê dat hierdie mense goeie gelowiges is. Ek sal hulle dan stuur om julle present na Jerusalem te neem.

4. As dit reg is dat ek ook gaan, dan kan hulle saam met my gaan.

Paulus sê wat sy planne is

5. Ek wil eers deur Masedonië gaan. Daarna sal ek ook na julle toe kom.

6. Ek sal miskien by julle kuier, miskien bly ek die hele winter daar by julle. Dan kan julle my help wanneer ek weer verder moet gaan.

7. Ek sal nie nou dadelik kom nie, want dan kan ek net ’n kort tydjie bly. As die Here wil, dan sal ek graag lank by julle wil kuier.

8. Ek sal in Efese bly tot die fees,

9. want die Here het nou vir my gehelp sodat ek hier belangrike werk vir Hom kan doen. Maar daar is baie mense wat vyande is van die goeie boodskap.

10. Wanneer Timoteus na julle toe kom, dan moet julle goed sorg vir hom. Hy moet vir niemand daar by julle bang wees nie. Onthou, hy werk ook vir die Here, soos ek.

11. Niemand mag dink Timoteus is nie belangrik nie. Julle moet hom goed help wanneer hy verder moet gaan, sodat hy kan terugkom na my toe. Ek wil hom en die ander gelowiges graag weer sien.

12. Ek wou baie graag hê dat Apollos ook saam met die ander gelowiges na julle toe moes gaan. Maar hy het gedink dat dit nie nou die regte tyd is om te gaan nie. Hy sal gaan wanneer hy kan.

Paulus stuur groete

13. Julle moet oppas dat die duiwel julle nie verlei nie. Julle moet aanhou glo in die Here. Julle moet dapper en sterk wees.

14. Julle moet alles met liefde doen.

15. Julle weet dat Stefanas en sy mense die eerste mense in die provinsie Agaje was wat gelowiges geword het. En hulle het baie gedoen om die ander gelowiges te help. Vriende, ek vra mooi

16. dat julle ook vir leiers soos Stefanas en sy mense moet help. Ja, julle moet vir almal help wat hard werk vir die Here.

17. Ek is baie bly dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier by my gekuier het. Dit het my gehelp om nie so baie te verlang na julle nie.

18. Hulle het my weer lekker laat voel. En ek is seker hulle het julle harte ook bly gemaak toe hulle al die nuus oor my vir julle vertel het. Julle moet goed luister na hulle.

19. Die gemeentes in Asië stuur groete vir julle. Akwila en Priska stuur ook groete. Die gelowiges wat altyd in hulle huis bymekaarkom, stuur ook groete. Hulle stuur baie vriendelike groete omdat julle en hulle almal aan die Here behoort.

20. Al die gelowiges stuur groete vir julle. Julle moet mekaar groet met die soen wat wys dat julle almal aan Christus behoort.

21. Ek skryf nou hierdie laaste paar woorde met my eie hand sodat julle kan sien dat hierdie brief regtig van my kom.

22. As iemand nie lief is vir die Here nie, dan sal die Here hom straf. Ons Here, U moet asseblief kom!

23. Die Here Jesus sal genadig wees vir julle.

24. Ek is baie lief vir julle almal, want ons behoort aan Christus Jesus.