hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 12 Bybel vir Almal (ABA)

Die Heilige Gees gee verskillende genadegawes

1. My vriende, ek wil hê julle moet baie goed verstaan wat die Heilige Gees vir ons gegee het.

2. Julle weet dit: Toe julle heidene was, het julle geglo in afgode wat nie kan praat nie. Julle het gedink die afgode kan julle help.

3. Daarom sê ek nou vir julle: As die Gees van God in iemand se hart is, dan sal hy nie sê: “Jesus is vervloek” nie. En wanneer iemand sê: “Jesus is die Here,” dan sê hy dit net omdat die Heilige Gees in sy hart is.

4. Daar is verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee.

5. En daar is verskillende maniere om die Here te dien in die gemeente, maar dit is dieselfde Here wat sê hoe ons dit moet doen.

6. En daar is verskillende wonderwerke, maar dit is dieselfde God wat mense help om al hierdie dinge te kan doen.

7. Die Gees wys vir elkeen wat hy moet doen, want die Gees weet wat is goed vir die gemeente.

8. Die Gees gee vir die een persoon die genadegawe om altyd te weet wat die regte ding is om te sê. Dieselfde Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om mooi te kan verduidelik wat God wil hê.

9. Dieselfde Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om sterk in God te glo. Dieselfde Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om mense gesond te maak.

10. Die Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om wonderwerke te doen. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om die boodskap van God te bring. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om te sê of ’n boodskap van God kom of van bose geeste. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om in tale te praat. Die Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om te tolk wanneer iemand in tale praat.

11. Dit is dieselfde Gees wat hierdie verskillende genadegawes vir mense gee. Hy gee vir elke gelowige sy eie genadegawe. En Hy besluit self watter genadegawe Hy vir elkeen wil gee.

Die kerk is soos een liggaam wat baie dele het

12. ’n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so.

13. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom.

14. ’n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele.

15. Die voet sê miskien: “Ek is nie ’n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd ’n deel van die liggaam.

16. Die oor sê miskien: “Ek is nie ’n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd ’n deel van die liggaam.

17. As die hele liggaam ’n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam ’n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee.

18. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou.

19. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie ’n liggaam nie.

20. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam.

21. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.”

22. Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig.

23. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere.

24. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is.

25. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar.

26. Wanneer een deel swaarkry, dan kry al die dele saam swaar. En wanneer die mense een deel prys, dan is al die dele saam bly.

27. Julle is almal saam die liggaam van Christus, en julle is ook elkeen ’n deel van hierdie liggaam.

28. God gee vir elkeen sy plek in die gemeente. Eerste is daar die apostels, tweede is daar die profete, derde is daar die mense wat vir ander mense leer, dan die mense wat wonderwerke doen, dan die mense wat die genadegawes het om mense gesond te maak, die mense wat vir ander mense help, die mense wat leiers in die gemeente kan wees, en die mense wat in tale praat.

29. Almal is nie apostels nie. Almal is nie profete nie. Almal kan nie vir ander mense leer nie. Almal kan nie wonderwerke doen nie.

30. Almal het nie die genadegawe om ander mense gesond te maak nie. Almal praat nie in tale nie. Almal kan nie tolk wat die mense sê wat in tale praat nie.

31. Maar julle moet bid en hard werk om daardie genadegawes te kry wat vir die gemeente die meeste kan help. En dan wys ek vir julle wat die beste ding is om te doen, die beste pad.