hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 9 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus mag geld kry vir sy werk in die gemeente, maar hy wil niks hê nie

1. Julle moet dit weet: Ek is vry, ek kan doen wat ek wil doen. Ek is ’n apostel, ek het vir Jesus ons Here gesien. Julle glo in die Here omdat ek die goeie boodskap vir julle gebring het.

2. Ander mense dink miskien dat ek nie ’n apostel is nie. Maar julle mag nie so dink nie, want julle glo in die Here, en dit wys dat ek ’n apostel is.

3. Ek wil graag die mense antwoord wat sê dat ek nie ’n apostel is nie. Ek sê vir hulle:

4. Ons, ek en die persone wat saam met my werk, mag vra dat die gemeentes vir ons moet sorg.

5. Elkeen van ons mag sy vrou saamneem, en die gemeentes moet vir hulle sorg. Die ander apostels en die broers van die Here en Sefas neem ook hulle vroue saam.

6. Ek en Barnabas mag ook vir die gemeentes vra om vir ons te sorg, sodat ons dan nie ook ander werk moet doen om vir onsself te sorg nie.

7. Julle weet dat ’n soldaat nie vir sy eie kos betaal nie, en iemand wat ’n wingerd plant, mag van die druiwe eet, en iemand wat skape en bokke oppas, mag van hulle melk drink.

8. Ek sê dit omdat dit iets is wat almal weet, en die Wette van Moses sê dit ook.

9. In die Wette van Moses is geskryf: Jy mag nie ’n bees se bektoebind wanneer hy die korrelsuit die koring-are trap nie.Is God bekommerd oor die beeste of is Hy bekommerd oor óns?

10. Hy is bekommerd oor óns, dit is seker. Daar is geskryf: Wanneer iemand ploegen die korrelsuit die koring-are haal,dan hoop hy om iets te kry.Moses het dit geskryf om vir ons te help, hy het aan óns gedink.

11. Ons het vir julle geestelike dinge geleer, ons het dit in julle harte gesaai. Daarom mag ons dinge van julle kry waarvan ons kan lewe.

12. Julle sorg vir ander werkers in die gemeente. Daarom mag ek en Barnabas nog meer vra dat julle vir ons moet sorg.Ons kry swaar, maar ons kies om vir onsself te sorg. Want dan is ons seker dat daar niks is wat julle sal keer om te glo in die goeie boodskap van Christus nie.

13. Julle weet baie goed dat die priesters wat in die tempel werk, van die kos eet wat die mense na die tempel bring. En die priesters wat by die altaar werk, eet ook van die vleis wat hulle op die altaar offer.

14. Daarom het die Here Jesus gesê dat almal wat die goeie boodskap bring, ook van die offers mag neem wat die mense gee, hulle moet daarvan lewe.

15. Maar ek self het nog nooit gevra dat die gemeentes vir my moet sorg nie. Julle moet ook nie dink ek skryf oor hierdie dinge sodat julle nou vir my moet begin sorg nie. Ek wil nie hê dat iemand vir my moet sorg nie. Nee, as iemand dit vir my moet doen, dan sal dit vir my beter wees om te sterf. Want ek is trots daarop dat ek die goeie boodskap bring, en ek vra nie dat julle vir my moet betaal nie.

16. Julle moet goed verstaan: Ek bring die goeie boodskap, maar ek doen dit nie sodat ek trots kan wees omdat ek dit doen nie. Nee, ek móét dit doen, ek kan nie besluit om iets anders te doen nie. Dit sal baie sleg gaan met my as ek nié die goeie boodskap bring nie.

17. As ek die goeie boodskap bring omdat ek self gevra het om dit te doen, dan kan ek vir julle geld vra omdat ek dit doen. Ek bring die goeie boodskap, maar nie omdat ek self gekies het om dit te doen nie, ek doen dit omdat die Here vir my hierdie belangrike werk gegee het.

18. Dink julle nou dat ek niks beloning kry nie? Nee, my beloning is dat ek die goeie boodskap bring en dat julle niks betaal daarvoor nie. Ek kán vra dat julle vir my moet sorg, maar ek doen dit nie.

19. Ek is vry om te doen wat ek wil doen, maar ek het besluit om ’n slaaf van almal te word, sodat meer mense in Christus kan glo.

20. Ek het vir die Jode soos ’n Jood geword, sodat die Jode in Christus kan glo. Ja, die Jode probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê, en ek het vir hulle geword soos iemand wat ook probeer om alles te doen wat die wette sê. In my hart weet ek dat dit nie belangrik is dat ek alles moet doen nie, maar ek doen dit sodat die Jode ook in Christus kan glo, die Jode wat nog probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê.

21. Die heidene ken nie die Wette van Moses nie, en vir húlle het ek geword soos iemand wat ook nie die Wette van Moses ken nie. Maar ek lewe altyd soos God se wette sê, ek lewe soos Christus dit verduidelik het. Ek doen dit omdat ek hoop dat die heidene ook in Christus sal glo, die heidene wat nie die Wette van Moses ken nie.

22. Party gelowiges se geloof is nog swak en hulle dink dat al die Wette van Moses vandag nog belangrik is. Ek het ook soos een van daardie gelowiges geword. Só het ek probeer om hulle sterker in Christus te laat glo.Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red.

23. Ek doen dit alles vir die goeie boodskap van Christus, sodat ek self ook kan kry wat Hy in sy boodskap belowe.

24. Julle weet dit baie goed: Wanneer mense resies hardloop, dan is daar baie atlete wat hardloop, maar net één wat wen. Julle moet só hardloop dat julle kan wen.

25. Elkeen wat resies wil hardloop, weet dat daar baie dinge is wat hy nie mag doen nie. As hy daardie verkeerde dinge doen, dan kan hy nie wen nie. En as hy wen, dan kry hy ’n lourier-krans. Hierdie kransie se blare bly nie lank mooi nie, dit verlep gou. Maar óns wat werk vir die goeie boodskap van Christus, ons kry ’n prys wat altyd mooi bly, dit verlep nooit nie.

26. Daarom hardloop ek soos iemand wat baie graag wil wen. Ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie, ek slaan soos iemand wat iets wil raakslaan.

27. Ek oefen baie hard sodat my liggaam alles kan doen wat ek wil hê dit moet doen. As ek dit nie doen nie, dan help dit nie dat ek vir ander mense preek nie. Want dan sê ek wat hulle moet doen, maar wanneer ek dit self moet doen, dan kan ek dit nie doen nie.