hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus gee raad oor verskillende sake in die huwelik

1. Ek wil nou praat oor die dinge wat julle vir my geskryf en gevra het. Julle sê dit is goed dat ’n mens nie trou nie.

2. Maar ek sê: Baie mense lewe onsedelik, daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê.

3. Wanneer ’n man en ’n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar.

4. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou.

5. ’n Man en sy vrou moenie ophou om met mekaar seks te hê nie. Maar hulle mag saam besluit om ’n tyd lank nie seks te hê nie sodat hulle meer tyd kan hê om te bid. Daarna moet hulle weer bymekaarslaap sodat die Satan hulle nie kan verlei nie, want party mense kan nie lank sonder seks bly nie.

6. Maar onthou, ek sê net julle kán ophou om seks te hê wanneer julle meer wil bid, ek sê nie julle móét ophou om seks te hê nie.

7. Ek wens dat alle mense ongetroud was soos ek. Maar God gee vir elke mens sy eie genadegawe. Hy gee vir die een mens een soort gawe, en Hy gee vir die ander mens iets anders.

8. Ek sê vir die mense wat nie meer getroud is nie, spesiaal vir die weduwees: Dit is vir hulle goed dat hulle ongetroud bly soos ek.

9. Maar as dit vir hulle té moeilik word om nie seks te hê nie, dan moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om altyd lus te wees vir seks.

10. En ek sê vir die mense wat getroud is, nee, dit is nie ék wat sê nie, dit is die Hére wat sê: ’n Vrou mag nie van haar man skei nie.

11. Maar as sy skei, dan moet sy ongetroud bly, of sy moet weer teruggaan na haar man toe. Die man mag ook nie van sy vrou skei nie.

12. Daar is ook die probleem van iemand wat getroud is met ’n man of vrou wat nie ’n gelowige is nie. Die Here Jesus het nie iets spesiaal daaroor gesê nie, maar ék wil iets daaroor sê: As ’n gelowige man met ’n ongelowige vrou getroud is, en die ongelowige vrou is tevrede om saam met haar man te lewe, dan moet die gelowige man nie van sy vrou skei nie.

13. Dit is dieselfde met ’n gelowige vrou: As sy met ’n ongelowige man getroud is, en die ongelowige man is tevrede om saam met sy vrou te lewe, dan moet die gelowige vrou nie van haar man skei nie.

14. Want omdat die ongelowige man getroud is met die gelowige vrou, sal hy miskien ook later aan God behoort. En omdat die ongelowige vrou getroud is met die gelowige man, sal sy miskien ook later aan God behoort. As dit nie so was nie, dan sou hulle kinders nie aan God behoort het nie, maar nou behoort hulle kinders aan God.

15. Maar as die óngelowige man of vrou wil skei, dan moet julle nie vir hulle keer nie, want God wil hê daar moet vrede wees tussen ’n man en sy vrou. Niemand kan sê die gelowige man of vrou móét getroud bly nie.

16. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie.

17. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê.

18. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie.

19. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God.

20. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het.

21. As jy ’n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan ’n vry man of vrou word.

22. Dit maak nie saak of jy ’n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy ’n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy ’n slaaf van Christus.

23. Christus het baie duur betaal om julle te koop. Daarom moet julle nie slawe van mense wees nie.

24. My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie.

25. Die Here het nie spesiaal iets gesê vir die jongmense wat nog nie getroud is nie. Maar ek wil vir julle sê wat ek dink julle moet doen. Die Here was goed vir my, julle kan nou vir my glo.

26. Die mense sal baie swaar kry in die tyd wat kom. Daarom dink ek dit is goed as iemand bly soos hy is, getroud of nie getroud nie.

27. As hy getroud is, dan moet hy nie skei nie. As hy nie getroud is nie, dan moet hy nie trou nie.

28. Maar as ’n jongman trou, dan doen hy nie sonde nie. En as ’n jongmeisie trou, dan doen sy nie sonde nie. Maar getroude mense sal swaarkry omdat daar so baie dinge is wat mense moet doen wanneer hulle getroud is, en ek wil nie hê julle moet swaarkry nie.

29. My vriende, ek waarsku julle dat die tyd kort is voordat Christus weer kom. Daarom moet die mense wat getroud is, wees soos mense wat nie getroud is nie.

30. Die mense wat huil, moet wees soos mense wat nie huil nie. Die mense wat bly is, moet wees soos mense wat nie bly is nie. Die mense wat dinge kan koop, moet wees soos mense wat niks het nie.

31. En die mense wat baie besig is in die wêreld, moet wees soos mense wat dink die wêreld is nie belangrik nie. Want die wêreld soos dit nou is, sal verdwyn.

32. Ek wil graag hê julle moenie bekommerd wees oor dinge nie. As ’n man nie getroud is nie, dan het hy tyd om besig te wees met die dinge van die Here. Hy probeer dinge doen waarvan die Here hou.

33. Maar as ’n man getroud is, dan is hy besig met die dinge van die wêreld. Hy probeer dinge doen waarvan sy vrou hou.

34. ’n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir ’n vrou. As ’n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as ’n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou.

35. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie.

36. As ’n jongman verloof is en hy dink hy doen nie reg aan sy verloofde nie, en hy wil baie graag by haar slaap, dan moet hy met haar trou. Hy doen nie sonde as hy met haar trou nie. Hy en sy verloofde moet trou.

37. As ’n jongman verloof is, maar hy besluit dat hy nie by sy verloofde wil slaap nie, en hy glo vas hy moenie met haar trou nie, dan doen hy reg as hy nie met haar trou nie. Maar niemand moet vir hom sê hy mag nie met haar trou nie.

38. Dit beteken dat as ’n jongman met sy verloofde trou, dan is dit goed. Maar as die jongman nie trou nie, dan is dit beter.

39. As ’n vrou met haar man getroud is, dan mag sy hom nie los nie. Maar as die man sterf, dan kan sy weer met enige iemand trou, maar dit moet iemand wees wat ook in die Here Jesus glo.

40. Maar ek dink so ’n weduwee is gelukkiger as sy nie weer trou nie. En ek dink dat die Gees van God my ook lei om vir julle te sê wat julle moet doen.