hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die intog van Jesus in Jerusalem

1. Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur

2. en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.

3. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4. Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:

5. “Sê vir Sion:Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier.”

6. Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.

7. Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim.

8. Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi.

9. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:“Prys die Seun van Dawid!Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!Prys Hom in die hoogste hemel!”

10. Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”

11. Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Die reiniging van die tempel

12. Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi

13. en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.”

14. Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig.

16. Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

17. Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

Jesus vervloek die vyeboom

18. Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry.

19. Toe Hy 'n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”En die vyeboom het dadelik verdroog.

20. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

21. Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

22. As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

Die vraag oor Jesus se gesag

23. Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24. Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.

25. Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

26. Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as 'n profeet.”

27. Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die twee seuns

28. “Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’

29. ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.

30. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie.

31. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”Hulle sê: “Die eerste.”Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.

32. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

Die gelykenis van die boere en die wingerd

33. “Luister na nog 'n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was 'n grondbesitter wat 'n wingerd geplant en 'n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan.

34. Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal.

35. Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig.

36. Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak.

37. Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien.

38. Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’

39. Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40. “As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41. Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë.

43. “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan 'n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44. “Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45. Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel.

46. Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het.