hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs

1. Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek

2. en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk.

3. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie.

4. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie.

5. Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.

6. Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges

7. en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8. “Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers.

9. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel.

10. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11. “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.

12. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Jesus veroordeel huigelary

13. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

15. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16. “Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

17. Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18. Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

19. Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word?

20. Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.

21. Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat daarin woon.

22. En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.

23. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

24. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.

25. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid.

26. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.

27. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.

28. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”

Jesus kondig hulle straf aan

29. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes,

30. en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’

31. Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete.

32. Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!

33. “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?

34. Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg.

35. So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het.

36. Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.”

Klag oor Jerusalem

37. “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

38. Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.

39. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”