hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die bergrede

1. Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom,

2. en Hy het hulle geleer en gesê:

Die werklik gelukkiges

3. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

4. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

6. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

7. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

8. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

9. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

11. “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.

12. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld

13. “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

14. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

15. ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.

16. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Die vervulling van die wet

17. “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.

18. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19. “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.

20. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Versoening

21. “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’.

22. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,

24. laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25. “As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.

26. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid

27. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.

30. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding

31. “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’

32. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van 'n eed

33. “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’

34. Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God;

35. nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning.

36. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.

37. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Vergelding

38. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’

39. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

40. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.

41. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.

42. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand

43. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’

44. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,

45. sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

46. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?

47. En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”