hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus is die Here oor die sabbat

1. In dié tyd het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet.

2. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.”

3. Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie?

4. Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters.

5. Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie.

6. “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel.

7. As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie.

8. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”

Die man met die gebreklike hand

9. Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom.

10. Daar was juis 'n man met 'n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?”Hulle bedoeling daarmee was om 'n klag teen Hom te kry.

11. Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie?

12. Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”

13. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

14. Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

Jesus die Dienaar van die Here

15. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar

16. hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.

17. So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

18. “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,my Geliefde oor wie Ek My verheug;Ek sal my Gees op Hom laat kom,en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

19. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie,en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

20. 'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nieen 'n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;Hy sal die wil van God laat seëvier.

21. En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

Jesus en Beëlsebul

22. Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien.

23. En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24. Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.”

25. Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie.

26. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan?

27. En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is.

28. “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

29. “Hoe kan iemand tog by die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

31. “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.

32. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

'n Boom word aan sy vrugte geken

33. “As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken.

34. “Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.

36. “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag.

37. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Die teken van Jona

38. Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.”

39. Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

40. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.

41. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!

42. Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Die terugkoms van die onrein gees

43. “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie,

44. sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant.

45. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”

Die moeder en die broers van Jesus

46. Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat.

47. Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.”

48. Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”

49. Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê:

50. “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”