hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

As julle armes help

1. “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

2. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

3. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4. sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

As julle bid

5. “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

6. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

7. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.

8. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

9. “So moet julle bid:“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10. laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11. Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12. en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13. en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As julle vas

16. “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

17. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig

18. sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Skatte in die hemel

19. “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.

20. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.

21. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Die lig van die liggaam

22. “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê.

23. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

God en Mammon

24. “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Die sorge van die lewe

25. “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

26. Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

27. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?

28. En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.

29. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

30. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31. “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.

32. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

33. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”