hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die belangrikste in die koninkryk

1. In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”

2. Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan

3. en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

4. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.

5. En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Aanleiding tot afvalligheid

6. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.

7. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.

8. “As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word.

9. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”

Die gelykenis van die verlore skaap

10. “Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.

12. “Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie?

13. En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie.

14. So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”

'n Broer wat sondig

15. “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

16. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

17. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

18. “Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.

19. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

20. want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Die plig om te vergewe

21. Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22. Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.

23. Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan.

24. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het.

25. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word.

26. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’

27. Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28. “Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’

29. Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’

30. Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31. “Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel.

32. Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het.

33. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’

34. Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35. “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”