hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16 Bybel vir Almal (ABA)

Timoteus gaan saam met Paulus en Silas

1. Paulus het ook in die stede Derbe en Listre gekom. In Listre was daar ’n gelowige, sy naam was Timoteus. Hy was die seun van ’n Joodse vrou wat ’n gelowige was, en sy pa was ’n Griek.

2. Die gelowiges in die stede Listre en Ikonium het goeie dinge oor Timoteus gesê.

3. Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom moes gaan. Daarom het Paulus hom geneem en hy het hom besny. Paulus het dit gedoen omdat al die Jode wat in daardie stede was, geweet het dat Timoteus se pa ’n Griek was.

4. Toe Paulus en sy vriende deur die stede gegaan het, het hulle vir die gelowiges vertel wat die apostels en die ouderlinge in Jerusalem besluit het. Hulle het ook vir die gelowiges gesê dat hulle moet doen wat die apostels en die ouderlinge besluit het.

5. Paulus en sy vriende het aangehou om die gelowiges in die gemeentes sterker te laat glo, en elke dag het meer en meer mense in Christus begin glo.

Die Here wys iets vir Paulus in Troas

6. Die Heilige Gees het vir Paulus en sy vriende gekeer sodat hulle nie die boodskap in die provinsie Asië kon bring nie. Daarom het hulle deur die lande Frigië en Galasië gegaan.

7. En toe hulle oorkant die provinsie Misië kom, het hulle probeer om na die provinsie Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle gekeer om dit te doen.

8. Hulle het toe deur Misië gegaan en hulle het na die hawestad Troas gegaan.

9. In die nag het die Here vir Paulus iets gewys, dit was soos in ’n droom. ’n Man van die provinsie Masedonië het daar gestaan en hy het vir Paulus mooi gevra: “Kom asseblief oor die see na ons toe en kom help ons.”

10. Nadat die Here dit vir Paulus gewys het, het ons dadelik probeer om met die skip na Masedonië te seil omdat ons geglo het dat God ons gekies het om die goeie boodskap vir daardie mense te bring.

Lidia begin om te lewe soos God wil hê sy moet lewe

11. Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil.

12. Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was ’n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook ’n kolonie van Rome. Ons het ’n paar dae in daardie stad gebly.

13. Op die Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se poort en ons het gegaan na ’n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was.

14. Daar was ’n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was ’n handelaar in pers materiaal. Sy was nie ’n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het.

15. Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.”En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.

Paulus en Silas is in die tronk in Filippi

16. Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. ’n Slavin het na ons toe gekom. Sy het ’n bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars.

17. Hierdie slavin het agter Paulus en ons geloop en sy het aangehou om te skree: “Hierdie manne is dienaars van die Hoogste God. Hulle vertel vir julle hoe God vir julle kan red.”

18. En sy het ’n lang tyd aangehou om dit te doen. Toe het Paulus kwaad geword, hy het omgedraai en vir die bose gees gesê: “Jesus Christus het vir my gesê ek moet vir jou sê: Gaan uit haar uit!”Die bose gees het dadelik uit haar uitgegaan.

19. Die eienaars van die slavin het besef dat hulle haar nie meer kan gebruik om vir hulle geld te verdien nie. Hulle het vir Paulus en Silas gegryp en na die mark gesleep. Die leiers van die stad was daar.

20. Toe die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas voor die Romeinse regeerders gebring het, het die eienaars gesê: “Hierdie mense is Jode en hulle maak die mense in ons stad opstandig.

21. Hulle vertel vir ons om dinge te doen, maar ons dink nie dit is reg nie, en ons mag dit nie doen nie, want ons is Romeine.”

22. Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan.

23. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas.

24. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in ’n blok gesit.

25. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik was daar ’n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval.

27. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het.

28. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.”

29. Toe het die wag gevra dat iemand ’n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval.

30. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?”

31. Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.”

32. En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here.

33. Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop.

34. Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het.

35. Die volgende oggend het die Romeinse regeerders die polisie na die wag toe gestuur om vir hom te sê: “Jy moet daardie manne vry laat weggaan uit die tronk.”

36. Die wag het toe vir Paulus vertel wat die polisie gesê het. Hy het gesê: “Die Romeinse regeerders het vir my ’n boodskap gestuur dat ek julle vry moet laat weggaan. Kom nou uit en gaan weg met vrede in julle harte.”

37. Maar Paulus het vir die polisie gesê: “Ons is Romeinse burgers, en niemand het ons in ’n hof ge-oordeel nie. Maar die Romeinse regeerders het ons laat slaan waar almal dit kon sien, en hulle het ons in die tronk laat gooi. En nou wil hulle vir ons laat uitgaan uit die tronk en hulle wil hê niemand moet dit weet nie. Dit sal glad nie gebeur nie! Daardie Romeinse regeerders moet kom en hulle moet self vir ons uit die tronk lei.”

38. Die polisie het hierdie dinge vir die Romeinse regeerders gaan vertel. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword.

39. Hulle het toe gegaan en hulle het mooi met Paulus en Silas gepraat en gesê dat hulle jammer is oor wat hulle gedoen het. Die Romeinse regeerders het hulle uit die tronk geneem en vir hulle gevra om weg te gaan van die stad.

40. Nadat Paulus en Silas uit die tronk gegaan het, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die gelowiges gesien en hulle het die gelowiges bemoedig. Toe het Paulus en Silas weggegaan van Filippi.