hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 6 Bybel vir Almal (ABA)

Die gemeente kies sewe manne

1. Die gelowiges het in hierdie tyd meer en meer geword. Die mense in die gemeente wat Grieks praat, het begin kla oor die mense in die gemeente wat Hebreeus praat. Hulle het gesê dat die weduwees van die mense wat Grieks praat, nie genoeg kos kry wanneer die gelowiges elke dag vir die arm mense in die gemeente kos gee nie.

2. Toe het die twaalf apostels al die gelowiges bymekaar laat kom. Die apostels het vir hulle gesê: “Ons, die apostels, moenie die hele dag besig wees om kos te gee vir die arm mense nie. Want dan sal ons nie genoeg tyd hê om die boodskap van God vir mense te bring nie. Dit is nie reg nie.

3. Vriende, julle moet sewe manne in die gemeente kies. Almal moet weet en sê dat hulle goeie manne is. Die Heilige Gees moet regeer oor hulle lewens en hulle moet baie wysheid hê. Ons moet vir hulle die werk gee om vir die arm mense te sorg.

4. En dan kan ons, die apostels, al ons tyd gebruik om vir mense te bid en om die boodskap van God te bring.”

5. Die gelowiges het almal gedink dit is goed wat die apostels gesê het. Hulle het toe die volgende manne gekies: Stefanus, ’n man wat ’n sterk geloof gehad het, die Heilige Gees was in hom, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus. Nikolaus het voorheen in Antiogië gewoon. Hy was eers ’n heiden en hy het later die Jode se godsdiens aanvaar.

6. Die gelowiges het hierdie manne voor die apostels laat staan. Die apostels het vir hulle gebid en hulle het hulle hande op die manne gesit.

7. Meer en meer mense het die boodskap van God gehoor, en die gelowiges in Jerusalem het baie meer geword. Baie priesters het ook gehoorsaam geword, hulle het gelowiges geword.

Die Joodse leiers vang vir Stefanus

8. God was genadig vir Stefanus en Hy het vir hom ook baie krag gegee, Stefanus het wonderwerke en groot tekens gedoen. Al die mense het geweet daarvan.

9. Daar was Jode wat aan een van die sinagoges behoort het. Hierdie Jode was eers slawe maar toe het die Romeine gesê hulle mag vry wees. Hulle het gekom van Sirenië, Aleksandrië, Silisië en Asië. Hulle het begin om baie met Stefanus te praat en te stry.

10. Maar hulle was nie so slim soos Stefanus nie. Stefanus het met wysheid gepraat, die Heilige Gees het vir hom gesê wat hy moet sê.

11. Toe het die Jode omkoopgeld betaal vir party manne, en hierdie manne het gesê: “Ons het gehoor dat Stefanus vir Moses en God beledig.”

12. Die manne van die sinagoge het vir die mense van Jerusalem en die familieleiers en die skrifgeleerdes kwaad gemaak vir Stefanus. Die mense het na Stefanus toe gehardloop, hulle het hom gegryp en na die Joodse Raad gebring.

13. Die mense het vals getuies gekry wat sê: “Stefanus wil nie ophou om slegte dinge te sê teen hierdie gewyde woonplek en teen die Wette van Moses nie.

14. Want ons het gehoor Stefanus sê dat hierdie Jesus van Nasaret hierdie tempel sal afbreek en dat hy die dinge sal verander wat Moses vir ons geleer het.”

15. Almal in die Joodse Raad het reguit na Stefanus gekyk. Hulle het gesien dat sy gesig soos ’n engel se gesig lyk.