hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus praat voor goewerneur Feliks

1. Vyf dae het verbygegaan. Toe het die hoëpriester Ananias na goewerneur Feliks toe gekom. Daar het ook ’n paar ouderlinge en ’n advokaat saam met Ananias gekom. Die advokaat se naam was Tertullus. Hulle het vir die goewerneur kom sê wat Paulus verkeerd gedoen het.

2. Die goewerneur het vir Paulus laat roep. Toe het Tertullus met die goewerneur gepraat en hy het vir Paulus begin beskuldig. Tertullus het gesê: “Geagte goewerneur Feliks, jy het baie vrede vir ons mense gebring. En jy het gedink wat in die toekoms sal gebeur, en toe het jy baie goeie planne gemaak, planne wat ons volk help.

3. Dit is vir ons altyd lekker om die goeie dinge te sien wat jy oral vir ons volk doen. Ons is baie dankbaar daaroor.

4. Maar ek wil nie jou tyd mors nie, ek sal nie lank praat nie. Ek weet jy is altyd vriendelik met mense, daarom vra ek jou baie mooi om te luister na wat ons vra.

5. Ons het uitgevind dat hierdie man oral baie probleme maak. Hy maak Jode oral in die wêreld opstandig teen die regering en hy is ’n leier van die groep mense wat verkeerde dinge glo, hulle glo in Jesus van Nasaret.

6. “Hy het ook probeer om die tempel in Jerusalem ’n onrein plek te maak. Daarom het ons hom gevang.

8. Ons beskuldig hom oor al hierdie dinge. Jy moet hom self vra en dan kan jy hoor wat hy daarvan sê.”

9. Die ander Jode wat daar was, het gesê dat Tertullus die waarheid praat.

10. Die goewerneur het vir Paulus gewys dat hy mag praat. Paulus het vir hom gesê: “Ek weet jy is baie jare lank regter oor hierdie volk. Daarom wil ek graag vir jou sê dat ek onskuldig is.

11. “Omtrent twaalf dae gelede het ek na Jerusalem gegaan om te aanbid.

12. Toe die Jode my in die tempel gekry het, was ek nie besig om met iemand te stry nie. Ek het ook nie mense opstandig gemaak nie, nie in die sinagoges nie, en ook nie op ander plekke in die stad Jerusalem nie.

13. Hulle sê nou dinge teen my, maar hulle kan dit nie bewys nie.

14. “Maar een ding is waar, ek is een van die mense wat behoort aan ‘Die Pad.’ Die Jode sê ons is ’n groep mense wat verkeerde dinge glo. Ek aanbid die God van ons voorvaders en ek glo alles wat in die Wette van Moses geskryf is en alles wat die profete geskryf het.

15. Ek glo en weet dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, die mense wat reg gedoen het en ook die mense wat verkeerd gedoen het. Die Jode glo dit ook.

16. Daarom probeer ek altyd baie hard om so te lewe dat ek kan weet en kan glo dat ek alles reg doen, soos God wil hê ek moet doen en soos mense wil hê ek moet doen.

17. “Ek het ná baie jare teruggekom en ek het geld gebring vir die arm mense van my volk. Ek het ook gekom om offers te bring.

18-19. Jode uit die provinsie Asië het my in die tempel gekry nadat ek my laat reinig het. Daar was nie baie mense by my nie, niemand wat geskree en geraas het nie. Dit sou goed gewees het as daardie Jode hiér was om my te beskuldig, maar hulle sal niks verkeerd teen my kan sê nie.

20. Ek het voor die Joodse Raad gestaan en hulle het ook vir my vrae gevra. Goewerneur, jy kan vra vir die Jode wat nou hier is. Hulle het niks gekry wat ek verkeerd gedoen het nie.

21. Miskien is daar een ding wat ek gesê het wat hulle dink is verkeerd. Ek het een ding geskree en gesê toe ek voor hulle gestaan het. Ek het gesê: ‘God sal mense wat gesterf het, weer laat lewe. Dit is hoekom ek vandag hier is, en dit is hoekom julle my moet oordeel.’ ”

22. Feliks het baie geweet van “Die Pad.” En hy het gesê dat al die Jode wat daar was, eers moet weggaan. Hy het gesê: “Wanneer Lisias, die hoof-offisier, kom, dan sal ek besluit wie is reg.”

23. Toe het Feliks vir die hoof-offisier gesê dat Paulus in die tronk moes bly, maar hy het gesê die soldate moenie baie kwaai wees met Paulus nie. Hy het gesê dat Paulus se vriende hom mag besoek en dat hulle vir hom alles mag bring wat hy nodig het.

Paulus bring die goeie boodskap van God vir Feliks en Drusilla

24. ’n Paar dae later het Feliks na die tronk gegaan. Feliks se vrou Drusilla het saam met hom gegaan, sy was ’n Joodse vrou. Feliks het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. Toe het Feliks geluister na wat Paulus sê oor geloof in Christus Jesus.

25. Paulus het gesê dat mense reg moet doen en ook dat niemand mag doen wat hy wil doen nie. Hy het ook gesê dat die tyd sal kom wanneer God al die mense sal oordeel. Daarom het Feliks baie bang geword. Hy het vir Paulus gesê: “Jy moet nou eers teruggaan tronk toe. Wanneer ek tyd het, dan sal ek jou weer laat roep.”

26. Feliks het ook gehoop dat Paulus vir hom omkoopgeld sal gee sodat hy vir Paulus uit die tronk sal laat kom. Daarom het hy gereeld die soldate gestuur om vir Paulus te gaan haal, en dan het hy met Paulus gesels.

27. Twee jaar het verbygegaan. Feliks se tyd om goewerneur te wees, het verbygegaan en Porcius Festus het die nuwe goewerneur geword. Feliks wou graag ’n goeie ding vir die Jode doen en daarom het hy gesê Paulus moet in die tronk bly.