hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die opstand van Seba

1. ’n Moeilikheidmaker met die naam Seba seun van Bikri, ’n Benjaminiet, was ook daar. Hy het op die ramshoring geblaas en gesê: “Ons het niks te doen met Dawid nie. Ons wil geen aandeel hê in hierdie seun van Isai nie. Komaan, manne van Israel, laat ons almal huis toe gaan!”

2. Toe het al die manne van Israel Dawid verlaat en vir Seba gevolg. Maar die manskappe van Juda het getrou gebly aan hulle koning en hom van die Jordaanrivier af na Jerusalem toe begelei.

3. Toe die koning by sy paleis in Jerusalem aankom, beveel hy dat die tien byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis te versorg, in afsondering geplaas moes word. Hy het hulle versorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Tot die dag van hulle dood was hulle afgesonder en het soos weduwees gelewe.

4. Daarna het Dawid vir Amasa beveel: “Roep die manskappe van Juda binne drie dae op. Kom dan en meld hier aan.”

5. Amasa het gegaan om Juda op te roep, maar hy het langer weggebly as die voorgeskrewe tyd.

6. Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat gou my manskappe en sit hom agterna voordat hy in ’n versterkte stad gaan wegkruip waar ons hom nie in die hande kan kry nie.”

Joab maak Amasa dood

7. Die manskappe van Joab het ook uitgetrek, asook die koning se Filistynse lyfwag en al die dapper krygers. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba agterna te sit.

8. Toe hulle by die groot klip in Gibeon kom, kom Amasa net daar aan. Joab het sy mantel aangehad, en bo-oor was sy swaard in die skede, vasgemaak aan die gordel oor sy heupe. Toe hy naderkom, het die swaard uitgeglip.

9. “Hoe gaan dit met jou, my broer?” sê Joab vir hom. Hy het hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.

10. Amasa het nie die swaard in sy ander hand raakgesien nie. Joab het hom toe daarmee deur sy onderlyf gesteek sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. Dit was nie nodig om ’n tweede keer te steek nie. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba agtervolg.

11. Een van Joab se manne het daar bly staan en gesê: “Wie aan die kant van Joab is en wie vir Dawid is, kom agter Joab aan!”

12. Amasa het egter nog in die middel van die pad in sy bloed gelê en krul. Toe die man sien dat die soldate daar gaan bly staan, sleep hy Amasa uit die pad en gooi ’n kleed oor hom, want hy het besef dat elkeen wat verbykom daar sou stilstaan.

13. Met Amasa uit die pad, het almal saam met Joab vir Seba seun van Bikri agtervolg.

Joab eis Seba se kop

14. Intussen het Seba deur die gebied van al die stamme van Israel getrek tot by Abel Bet-Maäka. Die Beriete het bymekaargekom en hom tot in die stad gevolg.

15. Toe Joab met sy soldate daar aankom, het hulle Abel Bet-Maäka beleër. Hulle het ’n beleëringswal teen die stad gebou. Dit was alreeds tot teen die muur. Almal by Joab was besig om deur die dorp se muur te breek.

16. Maar ’n wyse vrou het uit die stad geroep en gesê: “Luister! Luister tog na my! Sê asseblief vir Joab: ‘Kom hierheen sodat ek met jou kan praat.’”

17. Toe Joab naderkom, vra die vrou: “Is jy Joab?”“Ja, ek is Joab,” antwoord hy.Sy sê toe: “Luister goed na wat ek sê.”“Ek luister,” sê hy.

18. Sy het voortgegaan: “Voorheen was daar ’n spreekwoord: ‘Vra gerus raad by Abel’ en dan het hulle daarvolgens opgetree.

19. Ons is van die vreedsames en getroues in Israel. Maar jy is besig om ’n getroue stad wat in Israel hoogaangeskrewe is, te vernietig. Hoekom wil jy dit wat aan die Here behoort, vernietig?”

20. Joab het geantwoord: “Glo my, dis nie wat ek wil doen nie! Nee, ek wil nie julle stad vernietig nie.

21. Al wat ek soek, is ’n man met die naam Seba seun van Bikri uit die Efraimsberge. Hy het in opstand gekom teen koning Dawid. As julle hom aan ons uitlewer, sal ons die stad in vrede laat.”“Dis goed so,” antwoord die vrou. “Let op! Ons sal sy kop vir julle oor die muur gooi.”

22. Die vrou gaan toe na die inwoners met haar wyse raad. Hulle het Seba seun van Bikri se kop afgekap en dit oor die muur na Joab toe gegooi. Toe het hy op die ramshoring laat blaas en die soldate het uitmekaargegaan, elkeen na sy huis toe. Joab het teruggegaan na die koning in Jerusalem.

23. Joab is weer herstel in sy pos as bevelvoerder van die leër van Israel. Benaja seun van Jojada was bevelvoerder van Dawid se Filistynse lyfwag.

24. Adoram was in bevel van die dwangarbeiders. Josafat seun van Agilud was die skrywer.

25. Sewa was die staatsekretaris. Sadok en Abjatar was die priesters.

26. Ira uit Jaïr was ook Dawid se priester.