hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Amnon verkrag sy suster Tamar

1. Daarna het iets leliks gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n mooi halfsuster met die naam Tamar gehad. Amnon het smoorverlief op haar geraak.

2. Dit het so ’n obsessie geword dat hy siek van begeerte was. Omdat sy ’n maagd was, het dit onmoontlik gelyk om iets met haar te doen.

3. Amnon het ’n vriend gehad met die naam Jonadab, ’n uitgeslape man. Hy was die seun van Dawid se broer Samma.

4. Op ’n dag vra Jonadab vir Amnon: “Wat is verkeerd? Hoe is dit dat die seun van ’n koning dag na dag so neerslagtig lyk? Kom vertel my!”Amnon sê toe: “Ek is verlief op Tamar, Absalom se suster.”

5. “Ek sal jou sê wat jy moet doen,” sê Jonadab. “Gaan lê in die bed en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit gaan, vra hom: ‘Laat Tamar asseblief kom om vir my iets te ete te bring. Sy moet dit voor my oë voorberei sodat ek dit uit haar hande kan eet.’”

6. Amnon het gaan lê en voorgegee dat hy siek is. Toe die koning kom om te sien wat verkeerd is, vra Amnon: “Laat my suster Tamar asseblief kom en voor my oë vir my twee hartvormige roosterkoeke bak sodat ek uit haar hande kan eet.”

7. Dawid het ingestem en vir Tamar na Amnon se huis toe gestuur om vir hom kos voor te berei.

8. Toe Tamar by Amnon se huis kom, gaan sy in die kamer in waar hy gelê het. Sy het deeg geneem en dit voor sy oë geknie, hartvormige koeke gemaak en dit gebak.

9. Maar toe sy die pan voor hom neersit, het hy geweier om te eet. “Almal van julle moet hier uitgaan!” sê hy. Toe almal weg was,

10. vra hy vir Tamar: “Bring die kos hier na my toe dat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar neem toe die hartvormige koeke wat sy voorberei het en bring dit na haar broer Amnon se bed.

11. Maar net toe sy vir hom die kos wou voer, gryp hy haar en eis: “Kom slaap by my, my suster.”

12. “Nee, my broer!” smeek sy. “Moenie my onteer nie! Jy weet mos dat so iets nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie dwase ding aanvang nie!

13. Waarheen sal ek met hierdie skande vlug? Jy sal soos ’n dwaas in Israel wees. Praat gerus met die koning hieroor. Hy sal toelaat dat jy met my trou.”

14. Maar Amnon wou nie luister nie. Omdat hy sterker was as sy, het hy haar oorrompel en verkrag.

15. Toe verander sy verliefdheid in haat. Sy haat was selfs groter as sy verliefdheid vir haar. “Staan op en loop!” skree hy vir haar.

16. “Nee!” sê sy. “Om my nou weg te jaag is ’n groter onreg as wat jy my reeds aangedoen het.”Maar Amnon wou nie na haar luister nie.

17. Hy roep toe sy slaaf en beveel hom: “Smyt hierdie vrou hier uit en sluit die deur agter haar!”

18. Die slaaf het haar toe uitgeneem en die deur gesluit. Sy het ’n lang mantel gedra volgens die destydse gebruik vir die koning se dogters wat nog maagde was.

19. Tamar het stof op haar kop gegooi, die mantel stukkend geskeur, haar hand op haar kop gesit en hardop gehuil so ver sy gegaan het.

20. Haar broer Absalom het haar gevra: “Was Amnon by jou? Wees nou eers stil, my suster. Aangesien hy jou broer is, moet jy jou nie daaroor ontstel nie.” Daarna het Tamar as ’n eensame vrou in Absalom se huis gaan woon.

21. Toe koning Dawid hiervan hoor, was hy baie kwaad.

22. Hoewel Absalom nooit met Amnon hieroor gepraat het nie, het hy Amnon intens gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het.

Absalom wreek hom op Amnon

23. Twee jaar later was Absalom besig om sy skape in Baäl-Gasor naby Efraim te laat skeer. Hy het al die seuns van die koning soontoe uitgenooi.

24. Hy het ook na die koning toe gegaan en gesê: “My skeerders is nou besig. Sal die koning en sy personeel asseblief saamkom om deel te neem aan die geleentheid?”

25. Die koning antwoord: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal dit vir jou ’n groot oorlas wees.” Alhoewel Absalom daarop aangedring het, wou die koning nie kom nie, maar het hom voorspoed toegewens.

26. “As u nie kan kom nie, kan my broer Amnon dan asseblief saamgaan?” vra Absalom.“Hoekom nou juis Amnon?” vra die koning.

27. Maar Absalom het by die koning daarop aangedring totdat hy ingestem het dat al sy seuns, insluitend Amnon, kon gaan.

28. Absalom het vir sy lyfwagte gesê: “Wag totdat Amnon dronk is. Wanneer ek die teken gee, moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek is die een wat die bevel gegee het. Wees sterk en dapper.”

29. Die lyfwagte het met Amnon gemaak soos Absalom hulle beveel het en Amnon doodgemaak. Die ander seuns van die koning het elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30. Terwyl hulle nog op pad terug was, het die gerug Dawid bereik: “Absalom het al u seuns doodgemaak sodat niemand oorgebly het nie!”

31. Die koning het opgestaan van sy troon, sy klere geskeur en op die grond neergeval. Sy onderdane by hom het ook hulle klere geskeur.

32. Maar Jonadab, seun van Dawid se broer Samma sê: “Nee, my heer, moenie dink al die seuns van die koning is doodgemaak nie. Dit is net Amnon wat dood is. Dit was duidelik dat Absalom dit lankal beplan het, sedert Amnon sy suster Tamar verkrag het.

33. Nee, die koning moenie die gerug ernstig opneem nie. Die seuns is nie almal dood nie. Dit is net Amnon wat dood is!”

34. Intussen het Absalom gevlug.Die wagter het opgekyk en ’n groot klomp mense sien aankom uit die rigting van Bet-Goron teen die kant van die heuwel.

35. “Kyk!” sê Jonadab vir die koning. “Daar kom u seuns. Dis net soos ek gesê het.”

36. Hulle het kort daarna daar aangekom terwyl hulle huil en treur. Die koning en sy amptenare het ook bitterlik saam met hulle gehuil.

37. Absalom het na sy oupa Talmai van Gesur, seun van Ammigur, gevlug. Dawid het nog lank oor sy seun Amnon getreur.

38. Absalom het drie jaar lank daar in Gesur gebly.

39. Dawid het homself versoen met die dood van Amnon en het nie teen Absalom opgetree nie.