hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid doen goed aan Mefiboset

1. Op ’n dag het Dawid gevra: “Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan.”

2. Saul se hofhouding het ’n bestuurder gehad met die naam Siba. Hulle het hom na Dawid toe geroep. “Is jy Siba?” vra die koning.“Ja, my heer, ek is,” antwoord Siba.

3. Die koning vra hom toe: “Is daar iemand uit Saul se huis wat nog lewe? Ek wil graag ’n besondere guns aan hom bewys.”Siba het geantwoord: “Ja, een van Jonatan se seuns lewe nog, maar hy is kreupel.”

4. “Waar is hy?” vra die koning.“In Lo-Dabar,” antwoord Siba, “in die huis van Makir seun van Ammiël.”

5. Koning Dawid het Jonatan se seun toe uit Makir se huis laat haal.

6. Sy naam was Mefiboset. Hy was Jonatan se seun en Saul se kleinseun. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gegaan en laag gebuig. “Mefiboset?” het Dawid gevra.“Ja, dis ek, u dienaar,” het hy geantwoord.

7. Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie! Ek sal na jou omsien ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet.”

8. Mefiboset het voor die koning gebuig. “Wie is u dienaar tog dat u so goed is vir ’n dooie hond soos ek?” het hy uitgeroep.

9. Toe het die koning vir Siba, Saul se bestuurder, beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek nou aan sy kleinseun.

10. Jy en jou seuns en jou slawe moet die landerye bewerk om kos te verskaf vir sy gesin. Mefiboset self sal egter hier in my paleis kom eet.”Siba, wat vyftien seuns en twintig slawe gehad het,

11. het geantwoord: “U dienaar sal doen soos u my beveel het.” Van daardie dag af het Mefiboset gereeld aan Dawid se tafel geëet asof hy een van Dawid se eie seuns was.

12. Mefiboset het ’n seuntjie met die naam Miga gehad. Van toe af was die hele huishouding van Siba dienaars van Mefiboset.

13. Mefiboset self het egter in Jerusalem gebly omdat hy in die paleis geëet het. Al twee sy voete was verlam.