hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Here se belofte aan Dawid

1. Toe Dawid in sy paleis gevestig was en die Here hom rus gegee het van al sy vyande om hom,

2. het Dawid die profeet Natan ontbied. “Kyk!” sê Dawid. “Hier woon ek in ’n pragtige paleis van sederhout, maar die ark van God staan in ’n tent!”

3. Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus wat u in gedagte het, want die Here is met u.”

4. Maar daardie selfde nag het die Here vir Natan gesê:

5. “Gaan sê vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon?

6. Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het.

7. Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’

8. “Gaan en sê nou vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape weggevat om oor my volk Israel te kom heers.

9. Ek was by jou oral waar jy gegaan het en Ek het al jou vyande vernietig. Ek het jou naam beroemd maak oor die hele aarde.

10. Ek het my volk Israel ’n vaste woonplek gegee, en hulle daar gevestig. Dit is ’n veilige plek waar hulle nie weer gesteur sal word nie. Bose mense sal hulle nie onderdruk soos in die verlede,

11. in die tyd toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te heers nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande.“‘Nou verklaar die Here dat Hy vir jou ’n koningshuis sal bou.

12. Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan.

13. Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd.

14. Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels.

15. Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie.

16. Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’”

17. Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en hom alles vertel wat die Here gesê het.

Dawid se dankgebed

18. Toe het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige Here, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het?

19. En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige Here, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige Here!

20. Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige Here.

21. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.

22. “Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.

23. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het.

24. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.

25. En nou, Here God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd

26. sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan.

27. “Here, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou!

28. Nou, oppermagtige Here, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe.

29. Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige Here, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”