hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid se militêre suksesse

1. Hierna het Dawid die Filistyne gaan verslaan. Hy het hulle verneder en die mag van die Filistyne gebreek.

2. Dawid het ook die land van Moab onderwerp. Hy het die mense langs mekaar in ’n ry op die grond laat lê en hulle met ’n tou in groepe afgemeet. Hy het twee lengtes gemeet om tereggestel te word en een om gespaar te word. Die Moabiete het aan Dawid onderhorig geword en aan hom belasting betaal.

3. Dawid het ook die magte van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe hy uitgetrek het om sy mag by die Eufraatrivier te versterk.

4. Dawid het 1 700 oorlogsperde en 20 000 voetsoldate van hom gevang. Hy het 100 perde vir homself gehou en die ander se hakskeensenings afgesny.

5. Die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadad-Eser, koning van Soba te help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak.

6. Daarna het hy verskeie verdedigingsposte in Damaskus, die hoofstad van Aram, opgerig. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en belasting betaal. Oral waar hy gegaan het, het die Here vir Dawid die oorwinning laat behaal.

7. Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgeneem en dit na Jerusalem toe gebring.

8. Hy het ook ’n groot klomp brons uit Tebag en Berotai, stede van Hadad-Eser, saamgebring.

9. Toe Koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die leër van Hadad-Eser verwoes het,

10. stuur hy sy seun Joram om groete aan Dawid te bring. Hy het hom ook gelukgewens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het dikwels teen Toï geveg. Joram het baie geskenke van silwer, goud en brons aan Dawid gegee.

11. Dawid het al hierdie geskenke aan die Here gewy, asook die silwer en goud wat hy gebuit het by al die nasies wat hy onderwerp het.

12. Dit was Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek, asook van die buit van Hadad-Eser seun van Regob, koning van Soba.

13. Na sy oorwinning oor Aram, het Dawid vir hom naam gemaak toe hy 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

14. Hy het oral in Edom garnisoene geplaas sodat die hele Edom Dawid se onderdane geword het. Oral waar Dawid gegaan het, het die Here hom die oorwinning gegee.

15. Dawid het oor die hele Israel regeer en was regverdig en billik teenoor almal.

16. Joab seun van Seruja was die bevelvoerder van die leër. Josafat seun van Agilud was die skrywer.

17. Sadok seun van Agitub en Agimelek seun van Abjatar was die priesters. Seraja was staatsekretaris.

18. Benaja seun van Jojada was hoof oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns het as priesters opgetree.