hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die gevegte tussen Saul se koningshuis en die ondersteuners van Dawid het lank voortgeduur. Gaandeweg het Dawid al sterker geword, terwyl Saul se koningshuis verswak het.

Dawid se seuns wat in Hebron

gebore is

2. Die seuns wat in Hebron vir Dawid gebore is, was soos volg: Die oudste was Amnon, seun van Aginoam van Jisreël.

3. Die tweede was Kilab, seun van Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel.Die derde was Absalom, seun van Maäka, dogter van Talmai, koning van Gesur.

4. Die vierde was Adonia, seun van Gaggit. Die vyfde was Sefatja, seun van Abital.

5. Die sesde was Jitream, seun van Dawid se vrou Egla.Hierdie seuns is almal in Hebron vir Dawid gebore.

Abner se aanbod aan Dawid

6. Terwyl die oorlog tussen die twee koningshuise van Saul en Dawid voortgeduur het, het Abner algaande sterker geword in die Saulshuis.

7. Saul het ’n byvrou met die naam Rispa, dogter van Aja, gehad. Op ’n dag het Saul se seun Is-Boset vir Abner beskuldig: “Hoekom het jy my pa se byvrou Rispa gevat?”

8. Abner het hom gruwelik vir Is-Boset vererg. “Is ek dan ’n hond wat Juda wil help?” skree hy. “Is dit die beloning wat ek kry ná alles wat ek vir jou pa se huis gedoen het deur julle nie aan Dawid uit te lewer nie? Nou vind jy fout met my oor hierdie vrou!

9. Mag God my straf as ek nie tog vir Dawid help om alles te kry wat die Here hom belowe het nie,

10. dit is om die koningskap van die Saulshuis weg te neem en Dawid se heerskappy te vestig oor sowel Israel as Juda, vanaf Dan tot Berseba.”

11. Is-Boset het nie gewaag om nog ’n woord te sê nie omdat hy bang was vir Abner.

12. Toe stuur Abner boodskappers na Dawid toe en sê: “Aan wie behoort die land? Kom ons sluit ’n ooreenkoms, en ek sal die hele Israel na u toe oorhaal.”

13. “Nou goed,” antwoord Dawid, “maar op voorwaarde dat jy Mikal, Saul se dogter, saambring wanneer jy my kom ontmoet.”

14. Dawid het toe ook die volgende boodskap aan Is-Boset, Saul se seun, gestuur: “Gee my vrou Mikal terug. Om met haar te trou, moes ek die voorhuide van 100 Filistyne lewer.”

15. Is-Boset neem toe vir Mikal weg van haar man Palti, seun van Lajis.

16. Palti het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: “Gaan terug huis toe!” Palti het toe maar so gemaak.

17. Intussen het Abner met die leiers van Israel beraadslaag. “Julle wou mos al vir Dawid koning maak.

18. Die tyd is nou ryp daarvoor, want die Here het gesê: ‘Ek het Dawid my dienaar gekies om my volk Israel van die mag van die Filistyne en die mag van al sy vyande te verlos.’”

19. Abner het ook vertroulik met die leiers van Benjamin gepraat. Daarna het hy na Hebron toe gegaan om vir Dawid vertroulik te sê wat vir Israel en Benjamin aanvaarbaar is.

20. Abner het saam met twintig man in Hebron aangekom, en Dawid het hulle op ’n fees onthaal.

21. Toe sê Abner vir Dawid: “Laat my toe om die hele Israel na u kant toe oor te haal om ’n ooreenkoms met u te sluit sodat u kan heers oor alles wat u hart begeer.” Daarna het Dawid vir Abner ongehinderd laat gaan.

Joab vermoor Abner

22. Kort nadat Abner ongehinderd daar weg is, kom Joab en Dawid se manskappe met baie buit terug van ’n rooftog.

23. Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is,

24. haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom?

25. U weet tog dat Abner seun van Ner, net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!”

26. Joab is weg van Dawid af en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die put van Sira ingehaal en hom saam met hulle teruggebring. Maar Dawid het niks hiervan geweet nie.

27. Toe Abner terug is by Hebron, neem Joab hom eenkant na die poort toe asof hy vertroulik met hom wou praat. Toe pluk hy sy dolk uit en steek hom in die maag sodat hy sterf. Dit het hy gedoen uit weerwraak omdat Abner sy broer Asael doodgemaak het.

28. Toe Dawid dit agterna eers hoor, sê hy: “Ek en my koninkryk is onskuldig voor die Here oor die bloed van Abner seun van Ner.

29. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy familie. Mag sy familie in elke geslag vervloek wees deurdat hulle nooit sonder iemand sal wees wat bloei of ’n velaandoening het of wat met krukke loop of wat deur die swaard omkom of wat bedel vir kos nie!”

30. So het Joab en sy broer Abisai vir Abner doodgemaak omdat Abner hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgemaak het.

Dawid rou oor Abner

31. Toe sê Dawid vir Joab en almal wat by hom was: “Skeur julle klere en trek rouklere aan. Rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar in die begrafnisstoet na die graf toe geloop.

32. Hulle het Abner begrawe in Hebron. Die koning en al sy mense het by die graf gehuil.

33. Die koning het hierdie klaaglied vir Abner gesing:“Moes Abner sterf soos ’n dwaas?

34. Jou hande was nie vasgemaak nie;jou voete nie in kettings nie!Nee, jy is vermoor –’n slagoffer van bose mense.”Die hele volk het weer oor Abner gehuil.

35. Almal het Dawid op dié dag gesmeek om te eet terwyl dit dag was, maar hy het ’n eed afgelê: “Mag God my straf as ek enigiets voor sononder eet.”

36. Die hele volk het dit raakgesien en dit goedgekeur. Trouens, hulle het alles wat die koning gedoen het, goedgekeur.

37. Toe het almal, ook die hele Israel, besef dat Dawid nie vir Abner se dood verantwoordelik was nie.

38. Toe sê koning Dawid vir die volk: “Besef julle dat ’n leier, ’n groot man in Israel, vandag geval het?

39. Alhoewel ek die gesalfde koning is, is ek swak, want hierdie twee seuns van Seruja is te sterk vir my. Mag die Here met die bose man afreken vir sy bose daad.”