hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus neem ferm standpunt in

oor die Sabbat

1. Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet.

2. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.”

3. Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie?

4. Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek.

5. “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.”

Jesus genees op die Sabbat ’n

man met ’n misvormde hand

6. Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het.

7. Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê.

8. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan.

9. Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?”

10. Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword!

11. Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen.

Twaalf van Jesus se dissipels

12. Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring.

13. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name:

14. Simon (Hy het hom ook Petrus genoem), Andreas (Petrus se broer), Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus,

15. Matteus, Tomas, Jakobus (seun van Alfeus), Simon (die Yweraar),

16. Judas (seun van Jakobus), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het).

Vanuit alle oorde kom die

17. Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon.

18. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf.

19. Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees.

Gelukkig is hulle wat arm,

honger en gehaat is

20. Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê:“Gelukkig is julle wat arm is,want die koninkryk van Godis júlle deel.

21. Gelukkig is julle wat nou honger is,want julle sal versadig word.Gelukkig is julle wat nou huil,want die tyd sal kom dat julle van blydskap sal lag.

22. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle uitsluit en beskimp en julle naam deur die modder sleep ter wille van My, die Seun van die Mens.

23. “Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.”

Oppas vir kortstondige en

tydelike rykdom, voorspoed en

geluk

24. “Ellende wag op julle wat nou ryk is,want julle het julle enigste geluk reeds nou.

25. Ellende wag op julle wat nou versadig en voorspoedig is,want vir julle kom daar ’n tydvan ontsettende hongersnood.Ellende wag op jullewat sorgeloos lag,want julle gelag sal in rou en treur verander.

26. Ellende wag op jullewat deur die skares geprys word,want hulle voorvaders het ook die vals profete geprys.”

Wees lief vir jou vyand!

27. “Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat.

28. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak.

29. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan.

30. Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie.

31. Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

32. “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit!

33. En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook.

34. En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry.

35. “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes.

36. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”

Vergewe eerder en laat staan jou

kritiek

37. “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.

38. As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”

39. Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.

40. ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word.

41. “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie?

42. Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.”

’n Boom word aan sy vrugte geken

43. “’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie.

44. ’n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra. Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie.

45. ’n Goeie mens bring goeie dade voort uit ’n goeie hart, en ’n slegte mens bring slegte dade voort uit ’n bose hart. Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.”

Die twee soorte huise

46. “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?

47. Ek sal aan julle verduidelik hoe dit is wanneer iemand na My toe kom, na my onderrig luister en My gehoorsaam.

48. Dis soos ’n man wat ’n huis bou op ’n sterk fondament wat op ’n rotsbasis gelê is. Wanneer die vloedwater styg en die huis tref, staan dit stewig, want dit is goed gebou.

49. Maar enigeen wat luister en nie gehoorsaam nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament bou. Wanneer die vloedwater teen daardie huis aanbruis, sal dit tot ’n puinhoop inmekaarstort.”