hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus gaan tuis by Saggeus

1. Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap.

2. En daar was iemand met die naam Saggeus; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man.

3. Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was.

4. Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan.

5. Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.”

6. Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang.

7. Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!”

8. Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9. Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is.

10. Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.”

Tien slawe ontvang muntstukke

om mee te woeker

11. Nadat die mense na Jesus geluister het, het Jesus self voortgegaan om ’n volgende gelykenis vir hulle te vertel. Die aanleiding was dat Jesus naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die koningsheerskappy van God skielik, ja, enige oomblik sou begin.

12. Jesus het gesê: “’n Sekere man van hoë afkoms het na ’n afgeleë landgebied vertrek om ’n koningskap te bekom en dan weer terug te kom.

13. Hy het sy tien slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.’

14. Sy landgenote het hom egter gehaat en ’n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning oor ons hê nie.’

15. “By sy terugkoms, nadat hy die koningskap ontvang het, het hy hierdie slawe aan wie hy die geld gegee het, geroep met die doel om agter te kom watter wins hulle gemaak het.

16. Die eerste het aangetree en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het ’n wins van tien muntstukke opgelewer.’

17. Sy reaksie was: ‘Knap gedaan, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was, kry jy nou beheer oor tien stede.’

18. “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’

19. Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’

20. “Nog een het gekom en gesê: ‘Meneer, kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gaan wegsteek.

21. Ek was bang vir u omdat u ’n hardvogtige besigheidsman is. U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’

22. “Hy sê vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou. Jy is ’n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ’n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie.

23. Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’

24. “Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’

25. Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’

26. “Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit.

27. En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’”

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

28. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.

29. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag:

30. “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier.

31. As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’”

32. Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het.

33. Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34. Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35. Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim.

36. Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei.

37. Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.

38. Hulle het gesing:“Geseënd is Hy wat komin die Naam van die Here,die Koning!Vrede in die hemelen heerlikheid in die hoogste hemele!”

39. Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!”

40. Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

Jesus huil oor Jerusalem

41. Toe Hy naderkom en die stad voor Hom sien, het Jesus oor die stad begin huil.

42. Hy het verder gesê: “As jy op hierdie oomblik maar net wou insien watter dinge vir jou vrede bring! Maar nou is dit weggesteek vir jou oë.

43. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante beleër.

44. Hulle sal jou met die grond gelykmaak en jou inwoners uitwis. En hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly nie omdat jy die beslissende tyd van God se genadige besoek aan jou verwerp het.”

Jesus maak die tempel skoon

45. Jesus het die tempelgebied ingegaan en die smouse begin uitjaag.

46. Hy sê vir hulle: “Daar staan geskryf: ‘My huis moet ’n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ’n grot vir rowers gemaak.”

47. Jesus was dag na dag in die tempel besig om onderrig te gee. Die priesterhoofde en die skrifkenners en ook die ander volksleiers het ’n rede gesoek om Hom om die lewe te bring.

48. Hulle het egter niks gekry wat hulle in werking kon stel nie omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.