hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy is nie meer in die graf nie;

Hy is opgewek!

1. Douvoordag op die Sondagoggend het die vroue na die graf toe gegaan met die aromatiese olie wat hulle voorberei het.

2. Daar aangekom, kry hulle die steen weggerol van die ingang van die grotgraf af.

3. Hulle het ingegaan, maar nie die liggaam van die Here Jesus daar gekry nie.

4. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan daaroor. Skielik staan daar tussen hulle twee mans met helder blink klere aan.

5. Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe. Die mans sê vir hulle: “Waarom soek julle die lewende tussen die lyke?

6. Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek. Onthou julle hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het:

7. ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan’?”

8. Hulle het toe sy woorde onthou,

9. en teruggedraai van die graf af en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel.

10. Die vroue was Maria Magdalena, Johanna, Maria, die ma van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die apostels gaan vertel,

11. maar vir laasgenoemdes het hierdie dinge soos kletspraatjies geklink en hulle het die vroue nie geglo nie.

12. Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy buk om in te loer, sien hy net die linnedoeke. Verbaas oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Saam met die opgestane Here

op pad na Emmaus

13. En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem.

14. Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.

15. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop.

16. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken.

17. Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?” Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan.

18. Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.”

19. Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?”Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk.

20. Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word.

21. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het.

22. Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf,

23. maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe.

24. Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.”

25. Toe sê Jesus vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo!

26. Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?”

27. Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer.

28. Toe hulle naderkom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis.

29. Maar hulle het by Hom aangedring: “Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.” Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly.

30. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee.

31. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn.

32. Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?”

33. Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle,

34. wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!”

35. Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood.

Jesus verskyn aan die dissipels

36. Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

37. Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien.

38. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op?

39. Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.”

40. Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?”

42. Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis.

43. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet.

44. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.”

45. Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan.

46. Daarop het Hy gesê: “Só staan dit opgeteken: ‘Die Messias moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood.’

47-48. En op grond van sy Naam moet bekering tot vergifnis van sondes aan al die nasies verkondig word. Julle moet by Jerusalem begin en van hierdie dinge getuig.

49. “En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.”

Jesus vaar op na die hemel

50. Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën.

51. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52. Hulle het toe neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle met groot vreugde teruggegaan na Jerusalem toe.

53. Daar het hulle al hulle tyd in die tempel deurgebring en God geloof.