hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wat doen jy as jou seun of bees

in ’n put val?

1. Een Sabbatdag het Jesus vir ’n ete-uitnodiging by die huis van ’n leier van die Fariseërs aangekom. Die mense het Hom fyn dopgehou,

2. want daar was ’n man wie se arms en bene geswel was.

3. Jesus vra toe die Fariseërs en wetskenners: “Wel, is dit volgens wet toelaatbaar om mense op die Sabbatdag gesond te maak, of nie?”

4. Toe hulle stilbly, het Jesus die siek man aangeraak, hom genees en huis toe gestuur.

5. Toe het Hy na hulle gedraai en gevra: “Wie van julle werk nie op die Sabbat nie? As jou seun of bees in ’n put val, sal jy hom nie dadelik daar uithaal nie?”

6. Weer kon hulle geen antwoord hierop gee nie.

Hoogmoedigheid pas nie in by

Jesus se vereistes nie

7. Toe Jesus sien dat almal wat na die ete genooi was, naby die kop van die tafel probeer sit, het Hy hulle hierdie raad gegee:

8. “As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is?

9. Die gasheer sal sê: ‘Laat hierdie persoon asseblief hier sit.’ Dan sal jy met ’n rooi gesig opnuut moet plek soek – aan die end van die tafel!

10. “Maak liewer so – sit aan die end van die tafel. Dan, wanneer die gasheer jou sien, sal hy kom en sê: ‘Vriend, ons het ’n beter plek as dit vir jou!’ Dan sal jy voor al die ander gaste vereer word;

11. want die hoogmoediges sal verneder word, maar die nederiges sal vereer word.”

12. Toe draai Hy na sy gasheer. “Wanneer jy ’n middag- of aandete gee,” het Hy gesê, “moenie jou vriende, broers, familie en ryk bure nooi nie. Want hulle sal jou beloon deur jou terug te nooi.

13. Nooi liewer die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.

14. Jy sal geseënd wees, want by die opstanding van die godvresendes sal God jou beloon omdat jy hulle wat jou nie kon beloon nie, genooi het.”

Die groot feesmaal en so baie

verskonings

15. Toe hy dit hoor, het ’n man wat saam met Jesus aan tafel was, uitgeroep: “Wat ’n voorreg sal dit wees om deel te hê aan die feesmaal in die koninkryk van God!”

16. Maar Jesus het hom geantwoord: “’n Man het ’n groot feesmaal voorberei en baie uitnodigings uitgestuur.

17. Toe alles gereed was, het hy ’n slaaf rondgestuur om die gaste te laat weet dat hulle maar kan kom.

18. Maar hulle het almal begin verskoning maak. Een het gesê hy het pas ’n stuk grond gekoop en wou daarna gaan kyk. Hy vra dus om verskoon te word.

19. ’n Ander een het gesê hy het nou net vyf paar osse gekoop en wil hulle gaan probeer.

20. ’n Ander een was pas getroud, en het gesê hy kon nie kom nie.

21. “Die slaaf het toe teruggekom en aan sy baas vertel wat hulle gesê het. Die baas het kwaad geword en sê toe: ‘Gaan gou in die strate en stegies van die stad en nooi die armes, die kreupeles, die verlamdes en blindes.’

22. Nadat die slaaf dit gedoen het, het hy gerapporteer: ‘Daar is plek vir nog meer.’

23. Sy baas sê toe: ‘Gaan uit op die paaie en lanings en dring aan by enigiemand wat jy teëkom om te kom sodat my huis vol kan word.

24. Want ek sê vir julle, niemand van dié wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie.’”

Om ’n dissipel te wees kos

opofferings en beplanning

25. Groot skares het Jesus gevolg. Hy het omgedraai en vir hulle gesê:

26. “As iemand na My toe kom, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters, en ook nie jou eie lewe gering ag nie. Anders kan jy nie my dissipel wees nie.

27. En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.

28. “Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie. Want wie sal met die oprigting van ’n gebou begin sonder om eers kwotasies te kry en te sien of daar genoeg geld is om die rekeninge te betaal?

29. Anders kan jy dalk net die fondament voltooi voordat die geld opraak. En dan sal almal mos vir jou lag!

30. Dan sal hulle sê: ‘Daardie kêrel het mooi begin bou, maar sy geld was op nog lank voordat hy klaar was.’

31. “Of watter koning sal ooit droom om oorlog toe te gaan voordat hy saam met sy raadgewers gaan sit en beplan het of hy met sy 10 000 man sterk genoeg is om die aankomende 20 000 soldate te verslaan?

32. As hy nie kan nie, sal hy, terwyl die vyand nog ver is, ’n afvaardiging stuur om vredesvoorstelle te maak.

33. Só kan niemand my dissipel word sonder om alles vir My prys te gee nie.

34. “Sout is goed om smaak te gee. Maar as dit sy smaak verloor het, hoe kry ’n mens dit weer sout?

35. Smaaklose sout is selfs nie goed vir die grond of vir bemesting nie. Dit word weggegooi. Enigeen wat gewillig is om te hoor, moet luister en verstaan!”