hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Verlosser word in Betlehem

gebore

1. Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word.

2. Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was.

3. Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer.

4. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp.

5. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer.

6. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word.

7. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

’n Engel van die Here verras die

skaapwagters in die veld

8. Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het.

9. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword,

10. maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou!

11. Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore!

12. En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!”

13. Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:

14. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”

15. Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.”

16. Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê.

17. Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het.

18. Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas,

19. maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink.

20. Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.

Jesus word aan die Here gewy

21. Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het.

22. Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy.

23. Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.”

24. Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.”

Simeon sien die Gesalfde van

die Here

25. Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding.

26. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

27. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het,

28. was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys:

29. “Here, nou kan u dienskneg in vrede sterfsoos U my beloof het,

30. want ek het die verlossing gesien

31. wat U voorberei het voor die oë van alle volke,

32. ’n lig om God aan die nasiesbekend te maak,en die glorie van u volk Israel!”

33. Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is.

34. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.

35. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”

Die profetes Anna is oorstelp

oor die koms van die beloofde

Koning

36. Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was.

37. Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed.

38. Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

39. Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea.

40. Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.

Die twaalfjarige Jesus praat met

die skrifkenners

41. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees.

42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon.

43. Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het.

44. Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek.

45. Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek.

46. Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra.

47. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde.

48. Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!”

49. “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.”

50. Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.

51. Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52. En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.