hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Pilatus bevind Jesus onskuldig,

maar die Joodse leiers dring aan

op sy kruisiging

1. Die hele vergadering het opgestaan en Jesus voor Pilatus gebring.

2. Hulle het die klag teen Hom begin voorlê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk opsweep; hy verbied hulle om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy beweer dat hy self die Messias, die Koning is.”

3. Pilatus het Hom toe gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”Jesus het hom geantwoord: “Dit is soos u sê.”

4. Daarop het Pilatus aan die priesterhoofde en die skare gesê: “Ek vind niks krimineels aan hierdie man nie.”

5. Hulle het opgesweep geraak en aanhou roep: “Hy hits deur sy onderrig die volk deur die hele Judea aan. Hy het in Galilea begin en nou is hy ook hier.”

6. Toe Pilatus dit hoor, het hy probeer uitvind of die man dan ’n Galileër is.

7. Nadat hy hom daarvan vergewis het dat Jesus wel uit dié gebied afkomstig is wat onder Herodes se beheer val, het hy Jesus na Herodes toe gestuur, wat juis gedurende daardie tyd in Jerusalem was.

8. Herodes was baie opgewonde om Jesus te sien. Hy het al vir ’n lang tyd die begeerte gehad om Jesus te sien omdat hy al soveel van Hom gehoor het. Hy het ook gehoop om te sien hoe Jesus die een of ander wonderteken verrig.

9. Hy het Jesus vraag op vraag gevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.

10. Die priesterhoofde en die skrifkenners het daar gestaan en Jesus heftig beskuldig.

11. Herodes, saam met sy soldate, het Jesus met veragting bespot. Hy het Hom ’n blink kleed aangetrek en Jesus teruggestuur na Pilatus toe.

12. Op daardie dag het Herodes en Pilatus mekaar se vriende geword, want vroeër was hulle vyande.

13. Daarna het Pilatus die priesterhoofde en die volksleiers bymekaargeroep

14. en aan hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk opgesweep het om te rebelleer. Ek het hom voor julle oë ondervra en ek het geen gronde gekry vir die aanklag waarvan julle hom beskuldig nie.

15. Herodes het ook nie gronde gekry nie, want hy het hom teruggestuur na ons toe. Let ook daarop, Jesus het niks gedoen wat die doodstraf verdien nie.

16. Nadat ek hom laat gésel het, sal ek hom vrylaat.”

18. Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!”

19. (Barabbas was in die tronk gegooi oor ’n oproer in die stad en oor ’n moord.)

20. Pilatus het weer met hulle gaan redeneer omdat hy Jesus wou vrylaat,

21. maar hulle het dit bly uitkreet: “Kruisig, kruisig hom!”

22. Vir die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het hierdie man gedoen? Ek het in hom geen gronde vir die doodstraf gekry nie. Ek sal hom laat gésel en dan vrylaat.”

23. Die mense het egter met oorverdowende stemme aanhou roep en eis dat Jesus gekruisig moes word. Hulle geskree het die oorhand gekry.

24. Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word.

25. Hy het die man wat as gevolg van ’n opstand en moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens uitgelewer.

Jesus gekruisig

26. Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra.

27. ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het.

28. Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders

29. omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’

30. Dan sal mense aan die berge sê:‘Val op ons!’en aan die heuwels:‘Bedek ons!’

31. “As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?”

32. Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word.

33. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.

34. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

35. Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!”

36. Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied

37. en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.”

38. Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.”

39. Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!”

40. Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!

41. Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

42. Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”

43. Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus van Nasaret, die Seun van

God, sterf

44. Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe.

45. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur.

46. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas.

47. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.”

48. Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan.

49. Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou.

Jesus word begrawe

50. Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man.

51. Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God.

52. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra.

53. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie.

54. Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat.

55. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word.

56. Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei.Op die Sabbat het hulle gerus volgens die gebod in die wet.