hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Brandarm weduwee se

kosbare gawe

1. Jesus het opgekyk en sy oog laat gaan oor hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi.

2. Hy sien toe ook hoe ’n arm weduwee twee muntstukkies ingooi,

3. en Hy sê: “Ek verseker julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as hulle almal.

4. Hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy as lewensonderhoud gehad het.”

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam!

5. Terwyl sommige druk in gesprek was oor die tempel, oor die mooi klipblokke en gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê:

6. “Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander een sal oorbly nie. Alles sal gesloop word.”

7. Hulle vra toe vir Jesus: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan gebeur?”

8. In reaksie daarop het Jesus gesê: “Pas op sodat julle nie mislei word nie, want baie sal na vore tree en maak of hulle namens My optree en sê: ‘Ek is die een,’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie!

9. Wanneer julle ook al hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie, want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde volg nie onmiddellik nie.”

10. Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk.

11. Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af.

12. “Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree.

13. Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig.

14. “Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie,

15. want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie.

16. Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak.

17. Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree.

18. Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie.

19. Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.”

Jesus se profesie-preek: die

verwoesting van Jerusalem

20. “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het.

21. Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie.

22. Daardie dae is dae van vergelding sodat wat geskryf staan in vervulling moet gaan.

23. Groot ellende wag op die verwagtende vroue en ook op dié wat nog borsvoed gedurende daardie dae, want daar sal groot benoudheid in die land heers en God se toorn sal op hierdie volk rus.

24. Sommige sal deur die skerpkant van die swaard omkom en ander sal as gevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal vertrap word deur die vreemde nasies totdat die tyd van die nasies verby is.”

Jesus se profesie-preek: die

koms van die Seun van die

Mens

25. “Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe.

26. Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word.

27. En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens, sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid.

28. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”

Jesus se profesie-preek: die

gelykenis van die vyeboom

29. Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome.

30. Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is.

31. Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.

32. Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie.

33. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.”

Jesus se profesie-preek: oproep

om waaksaam te bly

34. “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds

35. soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom.

36. Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

37. Bedags was Jesus besig om in die tempel onderrig te gee en snags het Hy uitgegaan en op die Olyfberg gaan oornag.

38. En soggens vroeg het die hele volk na Hom kom luister in die tempel.