hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Na ’n tyd, tydens die koringoes het Shimshon sy vrou besoek met ’n jong bokkie en gesê: “Ek wil by my vrou ingaan in haar kamer,” maar haar vader het hom nie toegelaat om in te gaan nie.

2. Haar vader het gesê: “Ek het regtig gedink dat jy haar intens haat; ek het haar aan jou metgesel gegee. Is haar jonger suster nie mooier as sy nie? Laat sy joune wees in haar plek.”

3. Shimshon het toe vir hulle gesê: “Hierdie keer sal ek skuldloos wees teenoor die F’lishtyne wanneer ek hulle kwaad aandoen.”

4. Shimshon het gegaan en drie honderd jakkalse gevang, hulle stert teen stert gedraai en fakkels gevat en ’n fakkel in die middel tussen twee sterte gesit.

5. Toe hy die fakkels aan die brand gesteek het, het hy die jakkalse in die ongesnyde graan van die F’lishtyne losgelaat en so die miedens sowel as die ongesnyde graan, saam met die wingerde en olyfboorde aan die brand gesteek.

6. Toe vra die F’lishtyne: “Wie het dit gedoen?” Hulle sê: “Shimshon, die skoonseun van die man van Timnah omdat dié sy vrou gevat en haar vir sy metgesel gegee het.” Die F’lishtyne het opgegaan en haar en haar vader met vuur verbrand.

7. Shimshon sê vir hulle: “Aangesien julle so optree, sal ek my sekerlik op julle wreek, maar daarna sal ek ophou.”

8. Hy het hulle genadeloos geslaan met ’n groot slag en hy het afgegaan en gebly in die rotskloof van `Eitam.

9. Toe het die F’lishtyne opgegaan en gekamp in Y’hudah en uitgesprei tot by Legi.

10. Die manne van Y’hudah het gevra: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” Hulle sê: “Ons het opgetrek om Shimshon vas te bind, om aan hom te doen soos hy aan ons gedoen het.”

11. Toe trek drie duisend man uit Y’hudah af na die rotskloof van `Eitam en vra vir Shimshon: “Weet jy nie dat die F’lishtyne heersers is oor ons nie? Wat is dit wat jy ons nou aangedoen het?” Hy sê vir hulle: “Soos hulle aan my gedoen het, so het ek aan hulle gedoen.”

12. Hulle sê vir hom: “Ons het afgekom om jou vas te bind sodat ons jou kan oorgee in die hand van die F’lishtyne.” Shimshon sê vir hulle: “Sweer vir my dat julle my nie sal doodmaak nie.”

13. Hulle antwoord hom: “Nee, maar ons sal jou vasbind en oorgee in hulle hand; tog sal ons jou sekerlik nie doodmaak nie.” Toe bind hulle hom vas met twee nuwe toue en bring hom op vanuit die rots.

14. Toe hy by Legi kom, het die F’lishtyne hom skreeuend tegemoet gekom. Die Gees van יהוה het magtig oor hom gekom sodat die toue wat aan sy arms was, soos linne, wat in vuur gebrand is, geword het en sy bande het van sy hande afgeval.

15. Hy het ’n vars donkiekakebeen gevind, sy hand uitgesteek en dit gevat en ’n duisend man daarmee doodgemaak.

16. Toe sê Shimshon: “Met die kakebeen van ’n donkie, hope op hope; met die kakebeen van ’n donkie het ek ’n duisend man doodgemaak.”

17. Toe hy klaar gepraat het, gooi hy die kakebeen uit sy hand uit en noem dié plek Ramat-Legi.

18. Toe het hy baie dors geword en hy roep uit na יהוה en sê: “U het hierdie groot bevryding deur die hand van U dienskneg gegee en moet ek nou van dors sterf en in die hand van die onbesnedenes val?”

19. God kloof egter die holte wat by Legi is oop sodat daar water uitkom. Toe hy gedrink het, het sy krag teruggekom en hy is verfris. Hy het dit daarom `Ein-HaKorei genoem, wat vandag nog in Legi is.

20. Hy het Yisra’el in die dae van die F’lishtyne vir twintig jaar lank gerig.