hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In daardie dae was daar geen koning in Yisra’el nie en in dié dae het die stam van die Daniete vir hulleself ’n erfenis gesoek om in te bly, want tot daardie dag toe is al hulle erfenis nog nie aan hulle toegestaan tussen die stamme van Yisra’el nie.

2. Die seuns van Dan het vanuit al die getalle van hulle familie vyf manne, dapper manne uit Tzor’ah en Eshta’ol gestuur om die land te verken en dit te deursoek en vir hulle gesê: “Gaan deursoek die land.” Hulle het in die Bergland van Efrayim gekom en in die huis van Mikhay’hu gebly.

3. Terwyl hulle naby die huis van Mikhay’hu was, het hulle die stem van die jongman, die Leviet, herken en hulle het daar afgedraai en vir hom gesê: “Wie het jou hierheen gebring, wat maak jy hier en wat het jy hier?”

4. Hy sê vir hulle: “So en so het Mikhay’hu aan my gedoen en hy het my gehuur en ek het sy priester geword.”

5. Hulle vra vir hom: “Raadpleeg God asseblief sodat ons kan weet of ons pad waarop ons gaan, voorspoedig sal wees.”

6. Die priester sê vir hulle: “Gaan in vrede; die pad waarop julle gaan het יהוה se goedkeuring.

7. Toe gaan die vyf manne weg en hulle kom by Layish en sien dat die mense wat daarin is, in veiligheid bly volgens die lewenswyse van die Tzidoniete, stil en veilig, want daar was geen heerser wat hulle verneder het vir enige iets in die land nie en hulle was ver van die Tzidoniete af en het geen transaksies met enige mens gehad nie.

8. Toe hulle by hul broers terugkom in Tzor’ah en Eshta’ol, sê hul broers vir hulle: “Wat rapporteer julle?”

9. Hulle antwoord: “Staan op en laat ons teen hulle optrek, want ons het die land gesien en let op, dit is baie goed. Moenie twyfel of uitstel om in te gaan en die land in besit te neem nie.

10. As julle ingaan, sal julle by ’n gemaksveilige volk kom met ’n uitgestrekte land, want God het dit in julle hand gegee, ’n plek wat niks te kort het aan enige iets op die aarde nie.”

11. Toe het ses honderd man, bewapen met oorlogswapens, uit die familie van die Daniete, uit Tzor’ah en Eshta’ol, weggetrek.

12. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Kiryat-Ye’arim in Y’hudah. Hulle noem daarom dié plek Maganeh-Dan tot vandag toe; let op, dit lê wes van KiryatYe’arim.

13. Hulle het van daar oorgegaan na die Bergland van Efrayim en gekom by die huis van Mikhay’hu.

14. Toe het die vyf man, wat gegaan het om die land van Layish te verken, aan hulle bloedverwante gesê: “Weet julle dat in hierdie huise ’n skouerkleed, huisafgode, ’n gesnede en ’n gegote beeld is? Nou dan, oorweeg wat julle moet doen!”

15. Hulle het daar afgedraai en by die huis van die jongman, die Leviet, die huis van Mikhay’hu gekom en hom na sy welstand gevra.

16. Die ses honderd man, met hulle oorlogswapens, uit die seuns van Dan, het by die ingang van die poort gestaan.

17. Die vyf man wat gegaan het om die land te verken, het opgegaan, daar ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed, die huisgode en die gegote beeld gevat terwyl die priester by die ingang van die poort gaan staan het saam met die ses honderd man wat met oorlogswapens bewapen is.

18. Toe daardie manne in die huis van Mikhay’hu ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed, die huisgode en die gegote beeld gevat het, vra die priester vir hulle: “Wat maak julle?”

19. Hulle sê vir hom: “Bly stil, sit jou hand oor jou mond, kom saam met ons en wees vir ons ’n vader en ’n priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir die huis van een man of om priester te wees vir ’n stam en ’n familie in Yisra’el?”

20. Die priester se verstand, wil en emosie was bly en hy vat die skouerkleed, die huisgode en die gesnede beeld en gaan tussen die mense in.

21. Toe het hulle gedraai en weggegaan en die vee, die waardevolle goed en die beeste voor hulle gesit.

22. Nadat hulle ’n ent weg was van Mikhay’hu se huis af, is die manne van die huise wat naby Mikhay’hu se huis staan, bymekaargeroep en hulle het die seuns van Dan ingehaal.

23. Hulle het uitgeroep na die seuns van Dan, wat omgedraai en vir Mikhay’hu gesê het: “Wat is dit met jou dat julle bymekaargekom het?”

24. Hy het gesê: “Julle het my gode, wat ek gemaak het, weggevat saam met die priester en julle het weggegaan; wat het ek behalwe dit? Hoe kan julle vir my sê: ‘Wat is dit met jou?’”

25. Die seuns van Dan sê vir hom: “Moenie jou stem tussen ons laat hoor nie, anders sal woeste en wrede manne julle oorval en jy sal jou lewe en die lewe van jou huishouding verloor.”

26. Die seuns van Dan het aangegaan op hul pad en toe Mikhay’hu sien dat hulle te sterk was vir hom, het hy omgedraai en teruggegaan na sy huis.

27. Toe het hulle gevat wat Mikhay’hu gemaak het en die priester wat aan hom behoort het en hulle het by Layish, ’n rustige en gemaksveilige volk, gekom en hulle met die skerpte van die swaard verslaan en die stad met vuur verbrand.

28. Daar was niemand om hulle te bevry nie, want dit was ver van Tzidon af en hulle het met niemand transaksies aangegaan nie. Dit was in die vallei naby Beit-Regov. Hulle het die stad herbou en daarin gebly.

29. Hulle het die stad Dan genoem, volgens die naam van hulle vader Dan wat vir Yisra’el gebore is, maar tevore was die naam van die stad Layish.

30. Die seuns van Dan het vir hulle die gesnede beeld opgerig en Y’honatan, die seun van Gershom, die seun van M’nasheh, hy en sy seuns was priesters vir die stam van die Daniete tot op die dag dat die land oorgeneem is.

31. So het hulle vir hulleself die gesnede beeld van Mikhay’hu opgerig wat hy gemaak het, al die dae dat die huis van God in Shiloh was.