hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Nou, dit het gebeur na die dood van Y’hoshua dat die seuns van Yisra’el יהוה geraadpleeg en gesê het: “Wie van ons moet eerste optrek teen die Kena’aniete om teen hulle te veg?”

2. יהוה het gesê: “Y’hudah moet optrek; let op, Ek het die land in sy hand gegee.”

3. Toe sê Y’hudah aan sy broer Shim’on: “Trek saam met my op in die gebied wat aan my toegestaan is dat ons teen die Kena’aniete kan veg en ek sal op my beurt saam met jou optrek in die gebied wat aan jou toegestaan is.” Shim’on het saam met hom gegaan.

4. Y’hudah het opgetrek en יהוה het die Kena’aniete en P’riziete in hulle hand gegee en hulle het tien duisend man by Bezek verslaan.

5. Hulle het vir Adoni-Bezek in Bezek gekry en teen hom geveg en die Kena’aniete en P’riziete verslaan,

6. maar Adoni-Bezek het gevlug en hulle het hom agtervolg en hom gevang en sy duime en sy groottone afgesny.

7. Adoni-Bezek het gesê: “Sewentig konings met hulle duime en groottone afgekap, het onder my tafel stukkies opgetel; soos ek gedoen het, so het God my vergeld.” Hulle het hom na Yerushalayim gebring en daar is hy dood.

8. Die seuns van Y’hudah het teen Yerushalayim geveg en dit ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan en die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het die seuns van Y’hudah afgetrek om te veg teen die Kena’aniete wat op die Bergland, in die Suidland en in die Laagland gewoon het.

10. So het Y’hudah teen die Kena’aniete uitgetrek wat in Hevron gebly het (die naam van Hevron was vroeër Kiryat-Arba) en hulle het Sheshai, Agiman en Talmai verslaan.

11. Toe het hy van daar teen die inwoners van D’vir opgetrek (die naam van D’vir was vroeër Kiryat-Sefer).

12. Kalev het gesê: “Die een wat Kiryat-Sefer aanval en inneem, aan hom sal ek my dogter `Akhsah as vrou gee.”

13. `Otni’el, die seun van K’naz, Kalev se jonger broer, het dit ingeneem; hy het sy dogter `Akhsah vir hom as vrou gegee.

14. Toe sy by hom aankom, het sy hom oortuig om van haar vader ’n stuk grond te vra. Sy het van die donkie afgeklim en Kalev vra vir haar: “Wat wil jy hê?”

15. Toe sê sy: “Gee vir my ’n seën, aangesien u vir my die Suidland (Negev) gegee het, gee ook vir my waterfonteine.” Hy het vir haar die boonste en die onderste fonteine gegee.

16. Die nageslag van die Keiniete, van Moshe se skoonvader, het saam met die seuns van Y’hudah opgegaan vanaf die Palmstad na die wildernis van Y’hudah wat in die suide van `Arad lê en hulle het gegaan en saam met die volk gebly.

17. Toe het Y’hudah saam met sy broer Shim’on gegaan en hulle het die Kena’aniete verslaan wat in Tz’fat gebly het en dit volkome vernietig; daarom is die stad Hormah genoem.

18. Y’hudah het `Azah met sy grondgebied, Ashkelon met sy grondgebied en `Ekron met sy grondgebied ingeneem.Y’ho 17:16

19. יהוה was by Y’hudah en hulle het die Bergland in besit geneem, maar hulle kon nie die inwoners van die vallei uitdryf nie omdat hulle ysterwaens gehad het.

20. Toe het hulle Hevron aan Kalev gegee, soos Moshe belowe het en hy het die drie seuns van `Anak daar uitgedryf,

21. maar die seuns van Binyamin het nie die Y’vusiete uitgedryf wat in Yerushalayim gebly het nie; die Y’vusiete het saam met die seuns van Binyamin in Yerushalayim gebly tot vandag toe.

22. Net so het die huis van Yosef opgegaan teen Beit-El en יהוה was by hulle.

23. Die huis van Yosef het Beit-El verken (die naam van die stad was vroeër Luz).

24. Die spioene het ’n man uit die stad sien uitkom en hulle sê vir hom: “Wys ons asseblief ’n ingang in die stad in en ons sal jou goed behandel.”

25. Hy wys hulle toe die ingang na die stad en hulle het die stad verslaan met die skerpte van die swaard, maar die man en sy hele familie het hulle vry laat gaan.

26. Die man het na die land van die Hittiete gegaan en ’n stad gebou en dit Luz genoem, wat sy naam tot vandag toe is.

27. M’nasheh het egter nie besit geneem van Beit-Sh’an en sy dorpe, of Ta’anakh met sy dorpe, of die inwoners van Dor met sy dorpe, of die inwoners van Yivle’am met sy dorpe, of die inwoners van Megiddo met sy dorpe nie; die Kena’aniete het voortgegaan om in daardie land te bly.

28. Dit het gebeur dat toe Yisra’el sterk word, hulle die Kena’aniete dwangarbeiders gemaak het, maar hulle het hulle nie volkome uitgedryf nie.

29. Efrayim het nie die Kena’aniete wat in Gezer gebly het verdryf nie; die Kena’aniete het in Gezer tussen hulle gebly.

30. Z’vulun het nie die inwoners van Kitron of die inwoners van Nahalol uitgedryf nie; die Kena’aniete het tussen hulle gebly en is onderwerp aan dwangarbeid.

31. Asher het nie die inwoners van `Akko of die inwoners van Tzidon, Aglav, Akhziv, Helbah, Afik of Regov uitgedryf nie;

32. die Asheriete het tussen die Kena’aniete, die bevolking van die land, gebly, want hulle het hulle nie uitgedryf nie.

33. Naftali het nie die inwoners van Beit-Shemesh of die inwoners van Beit-`Anat uitgedryf nie, maar tussen die Kena’aniete, die inwoners van die land gebly en die inwoners van Beit-Shemesh en Beit-`Anat het vir hulle dwangarbeid geword.

34. Toe het die Emoriete die seuns van Dan in die Bergland in geforseer, want hulle het hul nie toegelaat om na die vallei toe af te kom nie;

35. tog het die Emoriete voortgegaan om op die berg Heres, in Ayalon en in Sha’alvim te bly, maar toe die krag van die huis van Yosef sterk word, het hulle dwangarbeid geword.

36. Die grens van die Emoriete het geloop vanaf die opgaan na `Akrabbim, vanaf Selah af en verder op.