hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Mattityahu 20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. want die Koninkryk van die hemel is soos ’n huiseienaar wat vroeg in die oggend uitgegaan het om werkers vir sy wingerd te huur

2. en hy het met die arbeiders ’n ooreenkoms aangegaan vir een denarion as dagloon en hulle na sy wingerd gestuur.

3. Ongeveer die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig by die mark staan

4. en hy sê vir hulle: ‘Gaan julle ook in my wingerd in en ek sal aan julle gee wat reg is’

5. en hulle het gegaan. Hy het weer ongeveer die sesde en die negende uur uitgegaan en dieselfde gedoen.

6. Amper op die elfde uur van die dag gaan hy uit en vind nog ander ledig staan en sê vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier ledig?’

7. Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan julle ook in die wingerd in en wat reg is, sal julle ontvang.’

8. Toe die aand aanbreek, sê die eienaar van die wingerd vir sy bestuurder: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon en begin van die laastes af tot by die eerstes.’

9. Die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen een denarion ontvang

10. en toe die eerstes kom, het hulle gehoop dat hulle meer sal ontvang en hulle het ook elkeen een denarion ontvang.

11. Toe hulle dit ontvang het, kla hulle by die huisheer

12. en het gesê: ‘Hierdie laastes het een uur gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het,’

13. maar hy antwoord en sê vir een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen kwaad aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir een denarion nie?

14. Neem joune en gaan. Ek wil aan hierdie laaste groep gee net soos aan jou,

15. of is dit nie reg van my om met my eie besittings te maak wat ek wil nie? Het jy ’n bose oog (suinig) omdat ek goed is?’

16. Net so sal die wat laaste is, eerste wees en die wat eerste is, laaste, want baie is geroep, maar min is gekies.”

17. Toe Yeshua gereed was om op te gaan na Yerushalayim, het Hy die twaalf studentevolgelinge eenkant geneem op die pad en vir hulle gesê:

18. “Let op, ons gaan op na Yerushalayim en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en leraars van die wet en hulle sal Hom tot die dood veroordeel

19. en Hom oorlewer aan die nie-Jode en hulle sal Hom spot, gésel en kruisig en op die derde dag sal Hy opstaan.”

20. Toe kom die moeder van die seuns van Zavdai met haar seuns na Hom toe en val voor Hom neer om iets van Hom te vra

21. en Hy sê vir haar: “Wat begeer jy?” Sy antwoord Hom: “Sê dat hierdie twee seuns van my in U Koninkryk, een aan U regter- en een aan U linkerhand, mag sit.”

22. Yeshua antwoord en sê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek gereed is om te drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.”

23. Hy sê vir hulle: “My beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word, maar om te sit aan My regter- en aan My linkerhand is nie Myne om te gee nie, behalwe aan hulle vir wie dit, deur My Vader, voorberei is.”

24. Toe die tien dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25. Yeshua het hulle geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies baas speel oor hulle en die leiers outoriteit het oor hulle,

26. maar só moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees

27. en wie ook al tussen julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees;

28. net soos die Seun van die mens nie gekom het om bedien te word nie, maar om te dien en Homself as ’n Losprys vir baie te gee.”

29. Toe Yeshua uit Yerigo uitgaan, het ’n groot skare mense saam met Hom gegaan

30. en let op, twee blindes het langs die pad gesit en toe hulle hoor dat Yeshua verbygaan, skreeu hulle uit en sê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”

31. Die skare het hulle bestraf dat hulle moes stilbly, maar hulle het al harder geskreeu en gesê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”

32. Yeshua het gestop en roep hulle en sê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

33. Hulle antwoord Hom: “Ons Meester, sodat ons oë geopen mag word.”

34. Yeshua het vir hulle baie jammer gevoel en hulle oë aangeraak en in ’n oomblik is hulle oë oopgemaak en hulle het Hom gevolg.