hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Mattityahu 7 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. “Moenie oordeel nie sodat julle nie geoordeel word nie,

2. want volgens die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word en met die maat waarmee julle meet, sal dit vir julle uitgemeet word.

3. Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog, maar die plank in jou eie oog merk jy nie op nie?

4. Hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my die splinter uit jou oog uithaal en let op, daar is ’n plank in jou eie oog?

5. Toneelspeler van ’n valse karakter, haal eers die plank uit jou eie oog uit, dan sal jy kan sien om ’n splinter uit jou broeder se oog uit te haal!

6. Hang nie oorringe aan honde nie en gooi nie julle pêrels voor wildevarke nie. As julle dit doen dan mag hulle dit net miskien onder hulle pote vertrap en omdraai en julle deurboor.

7. Hou aan om te vra en dit sal vir julle gegee word; hou aan om te soek en julle sal vind; hou aan om te klop en daar sal vir julle oopgemaak word,

8. want elkeen wat aanhou vra ontvang en hy wat aanhou soek, vind en vir hom wat aanhou klop, sal oopgemaak word.

9. Wie is daar tussen julle wat, as sy seun vir hom ’n brood vra, vir hom ’n klip sal aanbied;

10. of as hy vir ’n vis vra, vir hom ’n slang sal aanbied?

11. As julle, alhoewel julle boos is, dan weet om goeie geskenke vir julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, aanhou om goeie dinge te gee vir die wat aanhou om Hom te vra!

12. Alles wat jy wil hê ander mense vir jou moet doen, doen net so vir hulle, want dit is die Wet en die Profete.

13. Gaan in deur die nou hek, want die hek wat na vernietiging lei is breed en die pad wyd en baie gaan in,

14. maar die hek is klein en die pad smal wat na die lewe lei en daar is min wat dit vind!

15. Pas op vir die vals profete! Hulle kom in skaapsklere na julle toe, maar van binne is hulle plunderende wolwe.

16. Julle sal hulle aan hulle vrugte uitken. Pluk ’n mens druiwe van ’n doringbos of vye van distels?

17. Net so dra elke goeie boom bruikbare vrugte, maar ’n waardelose boom dra verrotte vrugte.

18. Dit is nie moontlik vir ’n goeie boom om verrotte vrugte te dra nie en vir ’n waardelose boom om bruikbare vrugte te dra nie.

19. Elke boom wat nie bruikbare vrugte dra nie, word uitgekap en val in die vuur.

20. Julle sal hulle daarom aan hulle vrugte ken.

21. Nie elkeen wat vir My sê: ‘My Meester, my Meester,’ sal ingaan in die Koninkryk van die hemel nie, maar hy wat die wil van My Vader, wat in die hemel is, doen.

22. Op daardie dag sal baie vir My sê: ‘My Meester, my Meester, het ons nie in U Outoriteit en Karakter (Naam) geprofeteer en in U Outoriteit en Karakter demone uitgedryf en in U Outoriteit en Karakter baie kragtige dade gedoen nie?’Ps 6:9

23. Dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het van die begin van tyd af nie met julle ’n verbondsooreenkoms gehad nie. Gaan ver weg van My af, julle wat teen die wet werk!’

24. Elkeen wat daarom na hierdie boodskappe van My luister en dit doen, sal vergelyk word met ’n wyse man wat sy huis op ’n soliede rots bou

25. en die reën het geval en die waterstrome het aangestorm en die winde het teen daardie huis gewaai en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die soliede rots.

26. Elkeen wat hierdie boodskappe van My hoor en dit nie gehoorsaam nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op sand bou

27. en die reën het geval en die waterstrome het aangestorm en die winde het teen daardie huis gewaai en dit het inmekaargeval en sy val was groot.”

28. Toe Yeshua die boodskappe klaar gebring het, was die skare verslae oor Sy leringe,

29. want Hy het hulle geleer soos een wat self outoriteit het en nie soos die leraars van die wet en die Fariseërs nie.