hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 11 Die Boodskap (DB)

Wysheid verander jou manier van leef

1. Dit walg die Here wanneer besigheidsmense oneerlik is, wanneer produkte swak en pryse buitensporig is. Eerlike transaksies maak Hom gelukkig.

2. Mense wat dink hulle is beter as ander, word uiteindelik verneder. Mense wat nie so baie van hulleself dink nie, verstaan die kuns van die lewe.

3. Vir mense wat die Here baie liefhet, is die lewe makliker. Hulle wat Hom nie ken nie, word deur valshede verwoes.

4. Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered.

5. ’n Gelowige vir wie die Here ’n werklikheid is, leef reg. Slegte mense se verkeerde dade verwoes hulle.

6. ’n Gelowige se verhouding met die Here help hom om krisisse te oorleef. Ongelowiges is die gevangenes van hulle eie begeertes.

7. Wanneer ’n ongelowige doodgaan, sterf hy sonder enige hoop; al die drome en verwagtings wat hy lewenslank gekoester het, is dadelik daarmee heen.

8. Hulle wat die Here ken, word in moeilike tye gehelp. Ongelowiges raak net meer en meer in hulle probleme verstrik.

9. ’n Ongelowige verwoes ander met sy woorde. ’n Gelowige wat die lewe ken, se woorde help ander wat in die moeilikheid is.

10. As dit met die gelowige goed gaan, is almal baie bly. As ’n slegte mens doodgaan, klink daar oral uitroepe van blydskap op.

11. Wanneer die Here ’n gelowige voorspoedig maak, trek baie mense voordeel uit sy rykdom. ’n Slegte mens se woorde en dade kan ’n hele gemeenskap laat ly.

12. Iemand wat ’n vriend in die openbaar verneder, is ’n hartelose mens. Iemand met ’n fyn aanvoeling vir ander sal eerder swyg.

13. Iemand wat skinderstories loop en versprei, lap ander se geheime uit. ’n Man met integriteit hou ’n geheim vir homself.

14. Waar kennis van die lewe ontbreek, gaan ’n volk onder. ’n Goeie regering se krag lê in sy kundige leiers.

15. Iemand wat sommerso vir ’n vreemde borg staan, kan finansieel swaarkry. Hy wat dit haat om borg te staan, se geld is veilig in die bank.

16. Vir ’n vrou met integriteit is haar goeie naam belangrik. Vir roekelose mense wat niks vir ander omgee nie, is geld die belangrikste van alles.

17. Iemand wat vir ander mense goed is, sal self die vrugte daarvan pluk. Iemand wat niks vir ander omgee nie, vernietig homself.

18. ’n Skurk se optrede bring min lewensvreugde. Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees.

Die lewe in volheid

19. Wie die Here opreg dien, ervaar die lewe in al sy volheid. Wie verkeerde dinge doen, is dood, al haal hy nog asem.

20. Mense wat net aan verkeerde dinge dink, maak die Here baie kwaad. Hy is baie gelukkig met hulle wat reg leef.

21. Niks staan vaster as ’n slegte mens se straf nie. ’n Gelowige se nageslag sal gelukkig wees.

22. Iemand sonder insig en die regte lewenstyl is soos ’n vark met ’n goue ring.

23. Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges se drome lei tot frustrasie en ellende.

24. Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer.

25. Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het.

26. Wie nie respek vir die gemeenskap se belange het nie, word verstoot. Wie die nood van die gemeenskap raaksien, word deur almal geëer.

27. Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes.

28. Wie dink hy kan op sy geld vertrou, sal wreed ontnugter word. Wie in die Here glo, gaan van krag tot krag.

29. Wie sy huisgesin te na kom se lewe sal leeg en sinloos wees. ’n Dom mens wat nie weet hoe om reg te lewe nie, sal nog vir ’n wyse werk.

30. Die vrug van die geloof is die lewe in al sy volheid. ’n Wyse verstaan die honger en die nood van ander.

31. As selfs ’n gelowige hier op aarde ly, hoeveel te meer nie ’n goddelose en ’n sondaar nie.