hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 9 Die Boodskap (DB)

Wysheid nooi almal uit

1. Wysheid het vir haar ’n mooi, groot huis gebou. Aan die agterkant was daar ’n groot onthaalarea met sewe pragtige pilare. Met die huis se inwyding het sy ’n groot partytjie gehou.

2. Daar was baie kos. Die beste wyn is uit die kelders geneem, die tafels is pragtig gedek en met wonderlike kosse oorlaai.

3. Toe alles gereed was, het Wysheid haar bediendes gestuur om die gaste te gaan haal. Veral by die woonbuurte waar baie mense gebly het, het hulle die mense genooi.

4. Wysheid se uitnodiging was duidelik: “Kom, almal wat nie weet hoe om reg te leef nie. Kom, almal wat geen insig in die lewe het nie.

5. Kom geniet in oorvloed die goeie dinge wat ek jou bied.

6. Los jou dom manier van lewe. Laat ek jou leer hoe om gelukkig te leef.”

Wysheid het ook vyande

7. Dink mooi hoe jy iemand wat met God spot, moet antwoord. As jy hom op sy foute wys, kan hy jou verneder.

8. As jy hard met hom praat, kan hy jou seermaak. Hy kan jou begin haat, jou groot skade aandoen.

9. ’n Gelowige is heeltemal anders. Wys jy hom mooi op sy foute, sal hy jou liefhê. Gee hom goeie raad, en hy verstaan die lewe beter. Leer hom om reg te lewe, en hy ken groot geluk.

10. Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe.

11. As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger.

12. Dus, as jy elke dag op die regte manier leef, is die lewe wonderlik. Maar as jy die wysheid verwerp, is die lewe sleg.

Dwaasheid het ook ’n huis

13. Anders as Wysheid is Dwaasheid ’n verskriklike verleentheid. Sy is dom. Raserig. ’n Regte flerrie. En van ’n gelukkige lewe weet sy net mooi niks nie.

14. Haar huis is op die besigste plek in die stad. Lui-lui sit sy heeltyd voor haar huis. Elke man wat verbystap, roep sy nader. Ook goeie jongmans probeer sy verlei.

15. Vir almal sê sy dieselfde ding: “My huis is net die regte plek vir dommes, vir mense wat niks van ’n gelukkige manier van leef weet nie.

16. Dis tog so lekker om dinge te doen wat verkeerd is.

17. Soos om water of brood te steel. Daarom is skelm verhoudings so lekker! Almal is in my huis welkom.”

18. Wie Dwaasheid besoek, vernietig sy mooi lewe. Haar huis is soos die dood. By haar kry die dood ’n greep op jou, slaan sy haar aaklige kloue in jou in, sleep sy jou stadig maar seker die graf in.