hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 26 Die Boodskap (DB)

Dink voor jy doen

1. Sneeu in die somer pas nie. Reën op die verkeerde tyd kan rampspoedig wees. So pas eerbetoon ook nie by iemand wat nie weet hoe om reg te leef nie.

2. Al wens iemand jou slegte dinge toe, niks daarvan sal waar word nie. Soos verskrikte voëltjies wat wegvlieg, sal dit in die niet verdwyn.

3. Soos ’n sweep ’n perd op die regte pad hou, so moet ’n dom mens die regte dinge op die harde manier leer.

4. Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom.

5. Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid.

6. Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom.

7. Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie.

8. ’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie.

9. ’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.

10. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.

11. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.

12. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.

13. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.

14. Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed.

15. ’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit.

16. ’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense.

17. Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp.

18. Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak.

19. Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie.

20. As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie.

21. Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid.

22. Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word.

23. Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne.

24. ’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie.

25. Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei.

26. Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind.

27. Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder.

28. Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes.