hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 10 Die Boodskap (DB)

Stap op die reguit pad

1. ’n Gelowige kind maak sy ouers gelukkig. ’n Kind wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak hulle hartseer.

2. Geld wat oneerlik verkry is, bring net verdriet. Eerlike optrede maak ’n mens gelukkig.

3. Die Here sorg vir sy kinders. Hy gee kos vir dié wat honger is. Die brandende begeertes van slegte mense word nooit waar nie.

4. Wie lui is, word gou arm.

5. Wie hard werk, het geld vir kos en klere.

6. Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid.

7. Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart. Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet.

8. ’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid.

9. Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende.

10. Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak. ’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang.

11. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd.

12. Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings.

13. Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid.

14. ’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende.

15. ’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel.

16. Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf.

17. Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang.

18. Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas.

19. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim.

20. ’n Gelowige se woorde is kosbaar. Dit kan baie vir mense beteken. ’n Dwaas se woorde beteken niks.

21. Hy het geen begrip vir die regte manier van lewe nie. Sy gepraat lei mense net in nog dieper ellende in.

22. As die Here vir ons goed is, ervaar ons arms vol geluk. Dit kom nie uit onsself nie, maar net van Hom. Ander mense sal dit ook in ons lewens kan sien.

23. ’n Dwaas se lekkerste tydverdryf is om verkeerde dinge te doen, dinge te sê wat seermaak, mense se lewens te vernietig. Maar die gelowige doen wat reg is.

24. Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar.

25. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom.

26. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas.

27. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs.

28. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie.

29. Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel.

30. ’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het.

31-32. ’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks.