hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 29 Die Boodskap (DB)

Wysheid help jonk en oud

1. ’n Hardkoppige mens wat nooit na ander luister nie, sal hom nog lelik vasloop.

2. As ’n gelowige die mag oorneem, juig die mense. As slegte mense aan bewind kom, kla die volk.

3. ’n Jongmens wat graag reg wil leef, maak sy ouers baie bly. Wie prostitute besoek, mors swaarverdiende geld.

4. Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak.

5. Loop katvoet vir die man wat jou altyd loop en vlei. Hy bedoel dit nie regtig nie. Dit is soos ’n net wat hy oor jou gooi en waaruit jy nie kan loskom nie.

6. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde.

7. ’n Gelowige weet dat hy ’n arm mens moet help. ’n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie.

8. Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar.

9. Dis nie die moeite werd om met ’n dom mens te argumenteer nie. Hy lag jou net uit. Daar kom nie rus nie.

10. Mense wat ander graag seermaak, hou niks van gelowiges nie. Vir hulle wat die Here ken, is die lewe wonderlik.

11. ’n Dom mens verloor oral en altyd sy humeur. ’n Wyse beheer homself.

12. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup.

13. ’n Arm mens en die een wat hom onderdruk, is albei die handewerk van God. Hy weet wat hulle doen en sê.

14. As ’n regering vir die armes omgee, sal hulle altyd onthou word.

15. Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker.

16. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom.

17. Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig.

18. Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ’n gelukkige mens.

19. Iemand wat vir jou werk, luister nie altyd na wat jy sê nie. Hy verstaan wat jy sê, maar hy steur hom eenvoudig nie aan jou nie.

20. Ken jy iemand wat praat voordat hy dink? Wel, daar is vir ’n dom mens meer hoop om te verander as vir hom.

21. Jou werker moet presies weet waar hy met jou staan. As dit nie gebeur nie, kan jy groot skade ly.

22. Iemand met ’n vinnige humeur veroorsaak moeilikheid. Iemand se woedeuitbarstings doen grote skade.

23. Iemand wat baie van homself dink, word hard grond toe gebring. Iemand wat nederig is, dwing respek af.

24. Wie gesteelde goed koop, is net so skuldig. Hy weet dit is verkeerd, maar steur hom nie daaraan nie.

25. Angs is soos ’n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou, voel veilig.

26. Mense kruip by invloedrykes om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer.

27. ’n Gelowige wil niks met ’n slegte mens en sy verkeerde dade te make hê nie. ’n Ongelowige kan iemand wat reg leef nie verdra nie.