hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 15 Die Boodskap (DB)

Sagte woorde!

1. ’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend.

2. Gelowiges se woorde getuig van kennis. Dommes weet niks van die lewe nie. Hulle praat net onsin.

3. Die Here weet wat mense doen. Hy sien al die goeie dinge en al die ongeregtighede raak.

4. Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek.

5. ’n Dwase mens verwerp sy ouers se opvoeding. ’n Slimme maak erns met dit wat hulle hom geleer het.

6. ’n Gelowige se rykdom is sy gesin. ’n Slegte mens se skatte bring hom geen geluk nie.

7. Na ’n wyse man kan jy altyd luister. Sy woorde is vol lewenskennis. Dommes dink net aan slegte dinge.

8. ’n Slegte mens se godsdiens is oppervlakkig. Die Here haat sy skynheiligheid. ’n Gelowige se gebed is vir die Here wonderlik.

9. Die Here haat die ongelowiges se slegte dade. Hulle wat opreg leef, het Hy sommer baie lief.

10. Wie die Here verlaat, voel sy straf. Wie teregwysing haat, is al klaar dood.

11. Die Here ken die lewe na die dood baie goed. Hy weet wat in die doderyk gebeur. So ken Hy ook alles wat ons beplan. Niks is vir Hom weggesteek nie.

12. ’n Ongelowige hou niks daarvan dat ander hom op sy foute wys nie. Hy sal ook nooit die geselskap van gelowiges opsoek nie.

13. Blydskap maak ons vrolik. Hartseer kan ons moed knak.

14. ’n Gelowige smag heeltyd na nog meer kennis en insig. ’n Ongelowige is heeltemal tevrede met sy dwase woorde en gedagtes.

15. As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees.

Eenvoud!

16. Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep ongelukkig te wees.

17. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat.

18. ’n Slegte humeur maak ander gou kwaad. Geduld en sagmoedigheid maak mense rustig en kalm.

19. ’n Luiaard se lewe is sleg. Dit is soos ’n pad vol spykers en gate. Maar ’n gelowige se lewe is soos ’n gelyk pad.

20. ’n Gelowige kind maak sy ouers baie bly. ’n Kind wat die Here verwerp, maak hulle hartseer.

21. ’n Ongelowige se dwaasheid maak hom gelukkig. Hy weet in elk geval nie van beter nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef.

22. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses.

23. ’n Goeie antwoord is waardevol. Dit kan iemand help om die regte besluite te neem. Wat is wonderliker as die regte woord op die regte tyd.

24. ’n Gelowige leefstyl bring baie geluk. Dit kan ons teen baie ellendes beskerm.

25. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig. Die Here sorg vir die armes en die swakkes.

26. Die Here hou niks van die ongelowiges se slegte gedagtes nie. Maar Hy hou baie van gelowiges wat mooi praat met ander.

27. Gulsigheid en geldgierigheid maak jou oneerlik. Dit vernietig jou gesin se lewe. Wie gelukkig is met wat hy het, probeer nie ander omkoop nie.

28. ’n Gelowige dink mooi voordat hy antwoord. ’n Ongelowige sê sommer die eerste ding wat by hom opkom.

29. Ongelowiges is ver van die Here af. Maar die Here luister na die gelowige se gebed.

30. Vriendelikheid maak ’n mens gelukkig. Goeie nuus is goed vir jou gesondheid.

31. Wie na lewenswysheid luister, is deel van die gelowiges. Tussen die gelowiges sal hy altyd tuis voel.

32. Wie wysheid verwerp, gooi sy geluk weg. Wie na goeie raad luister, verstaan die lewe soveel beter.

33. Liefde vir die Here lei tot groter kennis van die lewe. ’n Nederige manier van leef is belangriker as eer.