hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 8 Die Boodskap (DB)

’n Wyse lewe is wonderlik

1. Iemand wat reg leef, is ’n getuienis.Om reg te leef is soos ’n goeie vrou. Waar sy gaan, sien mense hoe goed en mooi sy is. Oral vertel sy hoe die wysheid jou kan help.

2. Jy sien haar by opdraandes staan. By stopstrate waar die verkeer stadig vloei.

3. By die ingange van stede waar hordes mense verbygaan. By die deure van huise en woonstelle. Oral sê sy dieselfde dinge:

4. “Mense, hoekom leef julle so dom? Word slim.

5. Kry insig in die lewe. Lewe gelukkig.

6. Luister na die goeie dinge wat ek vir julle wil sê. Dit is woorde wat werklik iets aan jou lewe kan doen.

7. Elke woord is die waarheid, want ek haat leuens.

8. My woorde gee jou ’n goeie kennis van die lewe.

9. Daar is werklik niks kroms of skeefs daaraan nie. Geen geheime agendas, magspeletjies of wat ook al nie. Net egte lewenswaarhede. Gaan vra maar vir hulle wat reeds wys leef en gelukkig is. Hulle sal weet my woorde is waar.

10. “My lewensreëls is baie meer werd as geld. Dit wat ek jou van die lewe wil leer, is baie kosbaarder as aardse skatte.

11. My goeie raad vir ’n gelukkige lewe is baie meer werd as jou peperduur juwele. Dis kosbaarder as enigiets wat jy ooit kan begeer.

12. “Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word.

13. “Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here. Wie Hom liefhet, haat dinge soos om te veel van jouself te dink. Wysheid verag ’n verkeerde manier van leef en praat.

14. “Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie.

15. Konings gebruik dit om te regeer,

16. staatspresidente maak goeie wette daarmee en regters sorg dat die regte besluite geneem word.

17. “Wie wysheid liefhet, is gelukkig. Wie daarna smag om reg te leef, sal dit regkry.

18. Wie wys leef, kry rykdom en eer, voorspoed en sukses. Die voordele van die regte manier van leef is onpeilbaar groot.

19. Selfs die suiwerste goud en die duurste silwer kan dit nie koop nie.

20. “Wysheid moet oral in mense te sien wees. Tree daarom in elke lewensituasie reg op. Behandel alle mense billik en reg.

21. Dan sal dit met jou baie goed gaan. Jy sal ’n ryk mens wees.”

22. Wysheid is baie oud. Neem dit dus ernstig op.Voorskrifte vir die regte manier van lewe is baie oud. Dit kom uit die gryse verlede. Riglyne om reg te leef, die regte dinge op die regte tyd te sê, kom al van die skepping af.

23. God het die wysheid heel aan die begin van die tyd gemaak, voordat Hy nog enigiets anders gemaak het: in die begin, nog voordat die aarde daar was, is die wysheid al netjies aanmekaargesit

24. toe daar nog geen oseane was nie, toe daar nog geen fonteine was nie, was die wysheid al daar

25. voordat die berge gemaak is, voordat die heuwels daar was,

26. voordat Hy die aarde en die velde gemaak het, voordat die eerste stoffies van die aarde daar was, het die wysheid al bestaan.

27. Toe Hy die hemelruim gevorm het, toe Hy die waters se grense bepaal het,

28. toe Hy die wolke hulle vaste plek gegee het, toe Hy die fonteine onder die aarde geskep het,

29. toe Hy vir die see grense gestel het (sodat die waters hulle plek sou ken), toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het, was die wysheid al lankal daar.

30. Wysheid was vir God soos ’n lieflingskind. Dag vir dag het Hy haar geniet. Soos ’n vrolike, huppelende kind het die wysheid die hele aarde vol gespeel.

31. Op ’n dag het die wysheid met Adam se kinders kennis gemaak. Tot vandag toe geniet sy hierdie vrolike verhouding met sy nageslag.

32. Wysheid is oud en baie belangrik. Luister daarom na al haar voorskrifte. Maak dit alles jou eie.

33. Dit is die moeite werd. Neem elke stukkie wysheid ernstig op.

34. Wie elke dag reg wil leef, is baie gelukkig. Wie elke dag probeer om die regte dinge te doen en te sê se vreugde ken geen perke nie.

35. Wie die wysheid sy eie maak, het die lewe gevind. Die Here is lief vir hom.

36. Wie die rug vir die wysheid draai, vernietig homself. Wie dit haat, is al klaar dood.