hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 12 Die Boodskap (DB)

Leer uit jou foute

1. Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom.

2. Die Here hou baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. Maar hulle wat heeltyd slegte dinge dink, verwerp Hy.

3. Niemand kry iets reg uit slegte dade nie. Slegte dinge maak van jou ’n ongelukkige mens. Die gelowiges staan vas. Hulle is gelukkige mense.

4. ’n Goeie vrou beteken vir ’n man verskriklik baie. Sy versier sy lewe soos ’n mooi kledingstuk. Iemand wie se vrou ’n skandemaker is, se lewe is nag. Sy is soos ’n ongeneeslike siekte.

5. Gelowiges dink heeltyd hoe om reg te lewe. Ongelowiges se raad is baie gevaarlik.

6. Goddelose mense se woorde probeer jou in ’n lokval lei. Dit wil jou seermaak. Maar gelowiges se insig in die lewe bevry jou van al hierdie strikke.

7. Ongelowiges gaan dood en dit is verby met hulle. Maar ’n gelowige se lewe het groot betekenis.

8. ’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle.

9. Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees.

10. ’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf.

11. Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel.

12. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie.

13. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies.

14. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens.

15. Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad.

16. ’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel.

17. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net.

18. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.

19. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie.

20. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde.

21. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie.

22. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat.

23. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit.

24. Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe.

25. Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig.

26. Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in. ’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood.

27. Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring.

28. ’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees.