hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7

Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 1 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het aan Miga boodskappe gegee wat oor Samaria en Jerusalem gegaan het. Miga was van Moreset afkomstig. Hy het hierdie boodskappe wat die Here vir hom gegee het, gekry in die tyd toe Jotam, Agas en Hiskia onderskeidelik koning in Juda was.

Sonde is soos wonde wat nie genees nie

2. Die eerste boodskap klink so: “Luister, asseblief! Alle volke en mense wat op die aarde bly, kyk mooi wat gaan gebeur! Die Here is Koning en Hy maak ’n regsaak teen julle. Meer as dit nog, Hy sal teen julle getuig. Die Here is in sy tempel, maar Hy wil hê julle moet hoor wat Hy te sê het.

3. “Kyk, Hy gaan weg van sy hemelse paleis af en kom aarde toe. Hy loop op die hoë bergtoppe.

4. Almal sal weet Hy het gekom, want die aarde wys dit. Die berge smelt weg en die valleie skeur oop. Dit lyk net soos wanneer ’n mens kerswas in ’n vuur sou smelt. Die was word loperig van die hitte en loop net soos water teen die kante van die berge af. Dit is soos vuurwarm lawa wat afloop.

5. Hoekom gebeur dit? Omdat die hele Israel opstandig is teen die Here en verkeerde dinge doen. Wie moet die blaam dra dat die mense van die noordelike koninkryk opstandig is? Die hoofstad, Samaria, natuurlik! En waar is offerplekke vir afgode in die suidelike koninkryk gebou? Binne-in Jerusalem.

6. “Hoor wat sê die Here hieroor: ‘Ek gaan Samaria soos ’n hoop rommel maak wat in die oop veld lê. Samaria sal nie meer ’n plek wees om in te bly nie, maar ’n plek waar ’n mens eerder ’n wingerd sal aanplant. Die stad gaan heeltemal verwoes word. Ek gaan die klippe waarmee die stad gebou is, teen die rante laat afrol tot onder in die laagtes. Net die kaal fondamente sal oorbly.

7. Ek gaan verder al die beelde wat in die stad is, stukkend slaan. Die mense moes betaal om deel te kon neem aan seremonies waarin die gode vereer is. As betaling moes hulle sekere goed na die afgodstempels gebring het. Ek sal al hierdie goed met vuur verbrand,’ sê die Here. ‘Ek sê weer, Ek gaan al die afgodsbeelde verpletter. Hierdie beelde en al die kosbare goed in die tempel is in die begin gekoop uit die betalings wat prostitute gekry het. Hulle het by die tempels gewerk. Maar daar sal mense wees wat hierdie goed sal steel en op ander plekke sal gebruik om vir prostitute te betaal.’”

8. Miga was omgekrap oor die ongehoorsaamheid van Israel. Hy het gesê: “Dit voel vir my of iemand dood is. Ek wil net aanhou huil. Ek sal julle wys hoe hartseer ek is, ek sal kaalvoet en sonder klere rondloop. Ek sal geluide maak soos ’n jakkals wat tjank, of soos ’n volstruis wat brom.

9. Samaria se toestand is soos iemand wat aan ’n ongeneeslike siekte ly. ’n Vyandelike volk gaan hulle aanval en niemand kan meer iets doen om hulle te help nie. Dieselfde gaan met die mense van Juda gebeur. Die gevaar is baie nader as wat hulle dink, die vyand is nie te ver weg van Jerusalem se hekke nie.”

Die vyand is op pad na Jerusalem

10. “Moenie vir ons vyand, die Filistyne, in die stad Gat van ons neerlaag vertel nie. Hulle moet glad nie sien ons huil nie. In Bet-Ofra kan die mense maar hulle hartseer wys deur in die stof te rol.

11. Die mense van Safir is verslaan en gevange geneem. Om hulle te verneder moet hulle kaal uit die stad stap. By Saänan is die inwoners te bang om dit te waag om buite die mure van die stad uit te gaan. Hulle kan ook nie verwag dat die mense van Bet-Haesel hulle sal kom help nie, want hulle is te behep met hulle eie hartseer.

12. “Die mense van Marot wag in spanning dat iemand hulle moet kom help. Dit gaan nie gebeur nie. Hulle gaan teleurgestel word. Die vyand wat die Here stuur om sy mense te straf is al amper by die hekke van Jerusalem.

13. Die inwoners van Lakis kan hulle solank maar regmaak vir oorlog. Nie dat hulle moet dink dat hulle enigsins ’n kans het om te wen nie. Lakis was die eerste stad wat die noordelike koninkryk, Israel, se voorbeeld gevolg het om afgode te aanbid. Dit is waar die mense van Jerusalem geleer het om ongehoorsaam aan die Here te wees en afgode te aanbid.

14. Julle kan solank vir die mense van Moreset-Gat ’n afskeidsgeskenk stuur, want dit is verby met hulle. Agsib het die konings van Israel opsetlik verkeerd laat verstaan. Hulle het verwag dat die mense van Agsib hulle sou kom help, maar daar het niks van gekom nie.

15. Die Here sê dat Hy aanvallers sal stuur om die mense van Maresa te kom verslaan. Israel se belangrikste leiers sal na Adullam toe gaan om daar in die grotte weg te kruip.

16. Jerusalem kan solank begin rou soos dit gewoonlik gedoen word wanneer iemand dood is. Hulle moet almal hulle koppe kaal skeer sodat dit soos ’n aasvoël se kaal kop lyk. Dit is soos dood, want die stede wat genoem is, is baie belangrike stede. Dit is erg om te dink dat hulle inwoners na ander lande toe weggevat sal word.”