hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7

Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 7 Die Boodskap (DB)

’n Siek samelewing

1. “Dit gaan nie goed met my nie. Ek voel soos iemand in ’n vrugteboord nadat die oes alreeds bymekaargemaak is. Daar het nie eens vir my ’n trossie druiwe of ’n enkele vy oorgebly om my honger weg te vat nie.

2. So gaan dit in die land ook. Daar is nie meer mense wat in die Here glo nie. ’n Mens kry ook nie meer eerlike mense nie. Om die waarheid te sê, hulle bedrieg en vermoor hulle eie mense soos niks.

3. Hulle is goed geskool in die kuns om verkeerde dinge te doen. Die ministers en die regters verwag omkoopgeld vir gunsies. Hulle is kop in een mus met mense in belangrike posisies wat maar net kan sê wat hulle graag wil hê en dan gebeur dit so.

4. “Die bestes onder hierdie klomp bedrieërs is erger as ’n gifplant of selfs ’n bos met gevaarlike dorings. ’n Mens kan hulle doodeenvoudig nie vertrou nie. Maar dít moet hulle weet, die dag wanneer die Here hulle gaan begin straf, is baie naby. Chaos gaan dan losbreek.

5. “Moet niemand vertrou nie, nie eens jou man of jou vrou of selfs jou beste vriend nie. Tel jou woorde!

6. Dit sal sleg gaan tussen die ouers, kinders en skoonouers. Die seuns dink hulle pa is dom. Die meisies en skoondogters is opstandig teen hulle ma en skoonma. Jy hoef nie eens ver te soek vir jou vyand nie, hy is sommer in jou huis.

7. “Ek het besluit ek sal my hulp by die Here soek. Ek sal geduldig wag tot Hy besluit dis nou die tyd om my te red. Verder weet ek die Here sal my gebed beantwoord.”

Die Here help Israel

8. Miga het namens Israel gepraat en gesê: “Ons vyande kry verniet so lekker omdat ons swaarkry. Dit is so dat ons geval het, maar ons sal weer opstaan. Dit voel vir ons of ons in die donkerte sit, maar ons weet die Here sal vir ons soos ’n lig wees.

9. Ons het verkeerde dinge gedoen en die Here het nie daarvan gehou nie. Ons moet daarom doodgewoon ons straf vat. Maar as dit eers verby is, sal die Here sorg dat dinge weer vir ons reg loop. Dit sal vir ons voel of Hy ons uit die donkerte bring na die lig toe. Ons sal weet dit is die Here wat ons laat wen teen ons vyande.

10. Ons vyande het gespot en gesê: ‘Waar is die Here julle God heen, is Hy weg?’ As ons vyande sien hoe die Here ons laat wen, sal hulle baie skaam kry oor hulle astrante houding. Ons sal lekker kry as hulle verneder word. Hulle sal soos modder wees wat in die strate lê en waarop mense trap.

11. “Daar gaan ’n tyd vir Israel kom om hulle stede weer reg te maak nadat die vyande dit verniel het. Hulle gaan dan ook hulle grense uitskuif en so meer grond kry.

12. Wanneer hierdie tyd aanbreek wat Israel verwag, sal mense van oral na hulle toe kom. Hulle sal van Assirië, Egipte en die gebied by die Eufraat af kom. Verder sal hulle ook van die verste see en die verste berge af kom.

13. Die lande van die vyande sal wild en leeg word. Mense sal nie daar wil bly nie. Hoekom gebeur dit? Omdat die mense wat daar bly, slegte dinge gedoen het.”

Die Here is jammer vir Israel

14. “Israel vra die Here om hulle te versorg en te beskerm soos ’n herder met sy skape maak. Hulle bly nou baie eenkant en alleen soos mense in ’n bos. Rondom hulle is die grond baie vrugbaar. Hulle wens dat die Here hulle sal toelaat om weer hierdie grond te gebruik waar alles so goed groei en groen is. Jare terug het hulle dit gedoen.

15. Hulle vra dat die Here hulle weer op sulke wonderlike maniere sal help soos Hy in Egipte vir hulle gedoen het. Toe het Hy gesorg dat hulle nie langer slawe sou wees nie.

16. Die volke van die wêreld sal stom van verbasing wees oor wat die Here vir sy mense doen. Hulle sal skaam wees omdat hulle eie krag skielik na niks lyk nie as hulle kyk na wat die Here doen. Hulle sal hulle monde en ore toedruk van skok.

17. Hulle sal dan weet dat hulle nie veel werd is nie. Hulle sal wees soos slange wat laag op die grond seil. Hulle sal bang en bewerig uit hulle lêplekke kom omdat hulle weet die Here is daar.

18. “Daar is nie nog ’n God soos die Here nie. Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is.

19. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap. Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi. Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie.

20. Lank terug in die verlede het die Here aan Abraham en sy nageslag beloof dat Hy altyd vir hulle sal sorg. Hulle sal ook altyd weet dat Hy vir hulle lief is.”