hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7

Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 2 Die Boodskap (DB)

Straf oor mag misbruik word

1. “Die Here beplan iets vreesliks teen die mense wat in die nag lê en planne maak om ander te kul. Hulle staan in die oggend op en begin doen wat hulle uitgedink het. Hulle sit in poste waar hulle mag het, wat dit vir hulle moontlik maak om hulle planne te laat werk.

2. As hulle ’n stuk grond wil hê, vat hulle dit doodeenvoudig. Hulle doen dieselfde met mense se huise. Hulle dink nie twee keer om iemand te bedrieg om sy huis in die hande te kry nie. Nie eens ’n mens se familie- of erfgrond is veilig nie.

3. Omdat hierdie mense so maak, sê die Here: ‘Ek beplan iets waarvan julle niks gaan hou nie. Daar is nie ’n kans dat julle dit sal kan ontduik nie. Dit gaan ’n baie slegte ervaring vir julle wees. Daar sal niks van julle trots oorbly nie.

4. Dan sal mense met julle spot. Hulle sal ’n lied sing wat vertel hoe hopeloos dit met julle gaan. Dit klink so: Dit is verby met ons. Daar is niks van ons oor nie. Hy het ons land van ons af weggevat en vir ander mense gegee. Hy het ons grond verdeel onder mense wat ons verraai het.’

5. “Wanneer die tyd kom dat die land uitgedeel word, sal daar niemand by daardie vergadering wees wat na julle belange omsien nie.”

6. In reaksie op hierdie boodskap van Miga was daar vals profete wat gesê het: “Moet julle nie steur aan die negatiewe goed wat hy gesê het nie. Die Here gaan ons nie verneder deur hierdie ramp oor ons te bring nie.”

7. Miga het toe gesê: “Sê my ’n bietjie, Israel, behoort julle nie te vra: ‘Is die Here ongeduldig?’ en: ‘Sal Hy regtig so iets doen?’ nie. Julle behoort te weet dat die Here goeie dinge te sê het vir mense wat lewe soos Hy wil hê hulle moet.

8. Maar die Here sê party van julle wil nie hoor wat Hy sê nie. Omdat dit julle houding is, is julle my volk se vyande. Julle gryp sommer ’n mens wat kalm en rustig by julle verbyloop en skeur sy klere van sy lyf af.

9. Julle jaag van die vroue van my volk uit hulle huise uit. Hulle het eintlik daardie huise so mooi na hulle smaak reggemaak. Deur dit te doen steel julle die kinders se reg om eendag te erf wat Ek vir hulle gegee het.”

10. Miga sê toe vir hulle: “Staan op, maak dat julle wegkom! Hier sal julle nie langer in vrede kan bly nie. Omdat julle ontrou aan die Here was, gaan hierdie plek so erg verwoes word dat dit nooit weer reggemaak sal kan word nie.

11. Weet julle, as ’n profeet wat graag leuens vertel en mense bedrieg, vir julle sou sê: ‘Ek sal vir julle vertel van al die voordele wat wyn en bier vir julle bring!’ sal so ’n profeet net die regte soort vir julle wees. Hy pas perfek by julle!’

12. “Die Here sê: ‘Ek sal die mense van Israel wat hierdie verwoesting vrygespring het, bymekaarmaak. Ek sal hulle bymekaarmaak soos ’n mense skape in ’n kraal saamjaag of soos skape wat saam in die veld wei. Die groot klomp mense wat saam in die land is, sal ’n lawaai opskop.

13. Ek sal hulle help om deur die vyand se verdediging te breek soos om deur ’n hek te breek. Ek, die Here, is julle Koning! Ek sal julle leier wees.’”