hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 21 Die Boodskap (DB)

Rispa en haar seuns

1. Daar was op ’n keer in Dawid se tyd baie min kos in die land. Dit het vir drie jaar aangehou omdat dit nie gereën het nie. Dawid het toe vir die Here gaan vra wat verkeerd is. Die Here se antwoord was: “Saul het mense van Gibeon laat doodmaak, en sy familie moet eers daarvoor betaal.”

2. (Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie. Hulle voorouers was Amoriete. Die Israeliete het belowe hulle sal hulle nie doodmaak nie, maar Saul het probeer om hulle uit te roei omdat hy gedink het dit sal beter wees vir die mense van Israel en Juda.) Dawid het die mense van Gibeon laat roep

3. en vir hulle gevra: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek die saak regstel sodat dit weer goed kan gaan met die Here se land?”

4. Die mense van Gibeon het gesê: “Ons wil nie Saul of sy familie se geld hê nie. Aan die ander kant mag ons seker nie vra dat van die Israeliete doodgemaak word nie, of hoe?”“Ek sal doen wat julle vir my vra,” sê Dawid.

5. Hulle sê toe vir die koning: “Daardie man wou ons uitroei; hy het ’n plan gehad om ons só by te kom dat ons nêrens in die land ’n plekkie sou hê nie.

6. Daarom moet sewe van sy kinders of kleinkinders vir ons gegee word sodat ons hulle kan ophang om die Here tevrede te stel. Ons wil hulle in Gibea ophang, die dorp waar Saul gewoon het, die man vir wie die Here eers gekies het.”Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.”

7. Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe.

8. Die koning het toe Rispa se twee seuns gegee. Hulle name was Armoni en Mefiboset. (Rispa was een van Saul se vroue; haar ma was Aja.) Hy het ook die vyf seuns van Merab, Saul se dogter wat met Adriël getroud was, gegee. (Adriël was Barsillai van Megola se seun.)

9. Hy het hulle vir die mense van Gibeon gegee. Die mense van Gibeon het hierdie sewe mans almal gelyk doodgemaak en hulle op die berg by die Here se altaar opgehang. Dit het gebeur aan die begin van die oestyd, net toe die mense begin gars oes het.

10. Rispa, Aja se dogter, het ’n swart bokhaarkombers gevat en vir haar ’n skuiling op die klipplaat gemaak. Daar het sy gesit en bedags die aasvoëls en snags die jakkalse van die lyke af weggehou. Sy het by die lyke waggehou vandat die oes begin het totdat dit op die lyke gereën het.

11. Die mense het vir Dawid gaan vertel wat Rispa, Saul se haremvrou, gedoen het.

12. Hy het toe Saul en sy seun Jonatan se bene laat haal by die mense van Jabes in Gilead. (Die mense van Jabes het hulle lyke mos een nag gaan afhaal van die binnekant van die muur van Bet-San af waar die Filistyne hulle opgehang het nadat hulle vir Saul op Gilboaberg doodgemaak het.)

13. Dawid het Saul en Jonatan se bene en die bene van die mans wat by Gibeon opgehang is,

14. in Benjamin, in Kis se graf by Sela laat begrawe. Nadat die mense alles presies gedoen het soos die koning vir hulle gesê het, het God weer die land jammer gekry en die mense se gebede geantwoord.

Oorloë teen die Filistyne

15-16. Daar was weer oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne. Dawid het saam met sy soldate gaan veg. Hulle kamp was in Gob. Dawid het baie moeg geword in die geveg. ’n Filistyn het toe gedink hy kan Dawid doodmaak. Hy was ’n reus van ’n man. Sy spies se bronspunt het meer as drie kilogram geweeg. Hy wou Dawid met sy nuwe swaard doodsteek.

17. Maar Abisai, Seruja se seun, het Dawid gaan help en die Filistyn platgeslaan en doodgesteek. Daarna het Dawid se manne hom laat sweer dat hy nooit weer saam met hulle sal gaan veg nie. Hulle was bang hy kom iets oor en dit sou ’n donker dag wees vir Israel.

18. Daarna was daar nog ’n geveg teen die Filistyne in Gob. In dié geveg het Sibbekai wat van Gusa af gekom het, ook so ’n groot man doodgemaak. Die man se naam was Saf.

19. In nóg ’n geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan (hy was Jaïr, een van die wewers in Betlehem, se seun) vir Goliat wat van Gat af gekom het, doodgemaak. Die handvatsel van Goliat se spies het gelyk soos die balk waaraan die mense wat weef, hulle wol hang.

20. In ’n ander geveg in Gat was daar ’n baie lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet. Hy het, met ander woorde, twaalf vingers en twaalf tone gehad. Hy was ook een van daardie groot mense, die Refaïete.

21. Hy het die Israeliete uitgetart, maar Jonatan, Dawid se broer Samma se seun, het hom doodgemaak.

22. Hierdie vier groot Filistyne het almal uit Gat gekom. Hulle was almal Refaïete wat in die gevegte teen Dawid en sy manne dood is.